-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Oud van jare, maar jonk van gees… op 89 is Oom Bekker Pelser van Lephalale die oudste lewende lid van die Cheetahs volgens die rugbyunie se Facebook-blad. Dit beteken Sarel Bekker Pelser is die oudste lewende Vrystaat rugbyspeler. Hy is op 14 November 1925 gebore en het tussen 1952 en 1954 vir die Vrystaat gespeel.
In 1963 het Oom Bekker hier in die Bosveld aangekom met sy vrou, drie kinders, ‘n tent en bakkie. En so het hy en sy gesin met sy tent oorleef totdat hy diep wortel geskiet op die plaas Nooitgedacht op die Thabazimbipad.
In 1973 het hy by Vleissentraal gewerk tot 1990 toe hy afgetree het as assistant hoofbestuurder. Oom Bekker het ook op Hoërskool Ellisras se beheerliggaam gedien van 1970-1974 en is ook die oudste beheerliggaamlid wat steeds leef. Beide sy dogters was hoofmeisies, Elsje in 1973 en Magda in 1974.
Wat Oom Bekker so besonders maak is sy sin vir humor en vrygewigheid. Hy skiet in die winter ‘n koedoe, maak biltong en deel uit. So deel hy ook sy nartjies, lemoene en mango’s met liefde.
Volgens Douw, sy seun, het Oupa Bekker nog in Desember nadat hulle gaan draf het vir Douw gesê: ”Toe ek jonk was het almal bulte gaan hardloop vir rugby, ek het nie daai goed gaan doen nie en hier staan ek nog en hulle is almal nou al gebêre onder die grond!”
Oom Bekker is ‘n diep gelowige wat vir ons almal ‘n voorbeeld stel. So hanteer hy ook Tannie Susan Kotze, sy vriendin van die laaste paar jare, se onlangse gruwel moord op haar plaas – in die geloof. En soos Oom Bekker tereg opmerk: Ons lewe met baie genade.
0 Comments