<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Sprekende voorbeeld van God se genade

 


 

News : 20 Feb 2015 20612 Viewed By Mariska Ehlers 0

LEPHALALE – Dit was ’n dag nes enige ander; toe Wilhelm Sparks se lewe agt jaar gelede onherroeplik verander is. Hy het in Desember 2006 vir sy pa se bakkie nuwe bande gaan opsit en oppad terug het hy in Nelson Mandela rylaan by ’n verkeerslig stilgehou en gewag vir die groen lig. Sekondes later het ’n voertuig hom van die kant af getref en die bakkie het omgeslaan, die bakkie se dak het heeltemal ingeduik.
In daardie paar sekondes het Wilhelm, toe 21-jaar oud, kopbeserings opgedoen en die dokters het later gevrees dat die jong man permanente breinskade opgedoen het en dat daar amper geen kans op herstel sou wees nie. Boonop was sy regter blad en sleutelbeen gebreek.
Na die ongeluk is Wilhelm per helikopter oorgeplaas na die Kloof Hospitaal in Johannesburg  waar hy vir ’n maand in ’n koma was. ’n Operasie is gedoen om die drukking op sy brein te verlig.
“Toe ek wakker word het die dokters en my familie aan my verduidelik dat ek in ‘n ernstige motor ongeluk was en dat daar ’n lang pad vir my voorlê," sê Wilhelm en noem dat dit ’n rukkie geneem het vir die volle waarheid om in te sink.
Een operasie op die ander het gevolg om hom te help herstel. Skielik was alledaagse takies ’n reuse- uitdaging. Soos om te praat en te loop. "Ek moes alles weer leer doen," sê Wilhelm, wat dadelik met fisioterapie begin het. "Soms was alles vir my net te veel en dit was baie harde werk, want ek moes regtig konsentreer tydens die oefeninge en terapie."
Om seker te maak dat hy nie tou opgooi nie, het Wilhelm besluit om elke dag nuut te takel. “Ek het met die genade en krag van God deur elke dag gekom,” vertel hy. Dit het amper agt maande geneem voordat Wilhelm weer kon verstaanbaar praat en voordat hy met die hulp van ’n kierie weer kon loop.
Gedurende sy terapie het Wilhelm dikwels opgelet dat die Para-Olimpiese swemmer, Natalie du Toit, nooit moed opgegee het nie ten spyte van die feit dat sy haar been verloor het in 'n motorongeluk. "Sy was 'n regte inspirasie," sê hy.
’n Jaar na die ongeluk het Wilhelm begin om klein takies vir sy pa se onderneming te verrig. Hy het aangehou herstel en in 2012 het hy genoegsaam herstel om sy eie besigheid te begin.
Vandag is hy op die ouderdom van 29 ‘n suksesvolle sakeman wat totaal onafhanklik funksioneer. Hy gee alle eer aan God en vir die mense wat God vir hom gegee het: “God het geweet om vir my sulke getroue vriende en familie te gee,” glimlag hy. “God weet hoe lyk ons elkeen se toekoms en Hy sal ons help as ons net in Hom glo.”

 

 

 
 

Wilhelm Sparks.

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube