<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Karstoeltjies word wet

 
News : 20 Feb 2015 810 Viewed 0

Van April af sal ouers volgens wet verplig word om alle kinders jonger as drie jaar in karstoeltjie vas te gordel. Die hoeveelheid kinders wat jaarliks op ons paaie sterf of seerkry weens ongelukke is baie hoog, het die Wêreld Gesondheidsorganisasie onlangs bevind en die regering het besluit tot hier toe en nie vêrder nie.
Tot nou toe was die dra van sitplekgordels verpligtend vir volwassenes en ouer kinders, maar nie vir kinders onder die ouderdom van drie jaar nie. Veiligheid sitplekke en stoeltjies was nie verpligtend nie en daar is geen reëls wat geld vir kinders ouer as drie wat op die voorste sitplek sit nie.
Die department van vervoer het egter besluit om wetgewing aan te pas om seker te maak dat kinders veiliger vervoer word. Verdere wetgewing las ook dat kinders vasgegordel moet wees en dat kleiner kinders in spesiale veiligheid sitplekke (booster seats) vasgegordel moet wees. Met ander woorde daar moet voorsiening gemaak word vir kinders wat nie in die gewone sitplekgordels pas nie.
Die nuwe wetgewing is met ope arms deur veral die mediese wêreld ontvang en een dokter het selfs gesê dat dit na 20 jaar van wetteloosheid ten opsigte van kinders tyd is om ons ‘mees kosbare besittings’ te beskerm.
Die department van vervoer het nog nie die boetes bekend gemaak nie en wag steeds vir terugvoer vanaf die hof oor wat die straf vir oortreders sal wees. Die huidige boetes vir oortreders is R250 vir gordels wat nie vas is nie (hetsy dit die bestuurder of ’n passasier is); R500 vir bussies (taxi’s) van meer as 2 500kg wat nie sitplekgordels vir voorste sitplekke het nie; R250 indien ’n kind bo die ouderdom van drie jaar nie vasgegordel is nie; en R250 indien die sitplekgordels foutief is.
Noordelike Nuus het met ’n paar van ons lesers gesels oor die nuwe wetgewing. Lezanne Abrahamse sê: “As jy jou kind lief het, maak jy hom vas – hulle is onvervangbaar!”
Lettie Joubert stem saam en sê sy sien gereeld ouers wat ry met kinders wat voor in die motor op ma of pa se skoot sit met hul gesiggies amper teen die voorruit. Belinda van Zyl stem saam: “As ek my kinders gaan aflaai by die skool sien ek ‘n kar waar die seuntjie penregop staan agterin die kar en die beste van alles is die een wat bestuur se veiligheidsgordel is vas! Hoe verduidelik ’n mens dit?”
“My kind is al vier en ry elke dag van haar lewe in ‘n karstoeltjie en sy sal hom in hom sit tot sy regtig nie meer kan nie,” sê Chané Jordaan. “Nie net is dit veiliger vir haar nie, maar dan kan sy en boetie ook nie mamma se aandag aftrek nie.”
Tineke van der Merwe glo die wetgewing self is puik, maar voel dit gaan nie in praktyk werk nie. “Hoe gemaak met al die kinders in taxi’s?
Ons sluit af met Hans Dumas se opinie: “Net pampoene gordel nie vas nie!”

 

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube