-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - Die 37-jarige veedief, Marthinus Groenewald, wat sowat R2-miljoen se vee in Limpopo en Noordwes gesteel het, is Vrydag in die Mokopane Streekhof 80 jaar tronkstraf opgelê.
Groenewald, afkomstig van Gauteng, is skuldig bevind op 10 aanklagte teen hom en sal effektief 16 jaar agter tralies sit, het Liezl del Frate, staatsaanklaer gesê.
’n Vragmotor vol gesteelde beeste in 2013 op kringtelevisie kameras by die Kranskop tolhek naby Modimolle het groot opslae veroorsaak.
Dié beeldmateriaal was die begin van Groenewald en drie van sy medebeskuldigdes se vervolging. Groenewald wat homself later aan die polisie oorhandig het, het aanvanklik onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Sy regspan het hom kort voor sy vonnis oorreed om skuldig te pleit.
Willem Clack, voorsitter van die nasionale veediefstal voorkoming forum en senior dosent by Unisa het Vrydag as staatsgetuie in die getuiebank sy professionele mening gelug oor die impak van veediefstal.
Hy het aan die hof uitgewys dat veediefstal ’n gewilde misdaad is omdat vee nie hul waarde verloor nie. Clack het bygevoeg dat die misdaad van veediefstal besig is om georganiseerd te raak en toeneem.
Een van Groenewald se medebeskuldigdes, Charles Hendrik Marais, moet slegs een sesde van sy vyf jaar gevangenisstraf uitdien. Solane Taitus Chauke en Andries Chauke se saak is geskei en duur na verwagting vandag voort.
Geaffekteerde boere wat die vonnisoplegging bygewoon het, het die vonnis verwelkom.
0 Comments