<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Passievolle diere-arts lê die tuig neer

 

Dr. Ferdi Bingle.

News : 06 Mar 2015 573 Viewed By Martie Le Grange 0

MOKOPANE - “Daar is ’n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan,” het Dr. Ferdi Bingle, die welbekende en geliefde veearts van Potgietersrus Dierekliniek verlede week aan Noordelike Nuus gesê. Dr. Bingle lê ná 46 jaar in die veeartseny en na 40 jaar as ‘n Mokopane veearts, uiteindelik die tuig neer om te gaan aftree.
Dr. Bingle is by baie diere-eienaars ’n eerste keuse as dit kom by hul troeteldiere se gesondheid. Hy vertel hy het ’n ingebore liefde vir diere en wou sedert hy in die laerskool was ‘n veearts word. “Ek het elke oomblik van my loopbaan terdeë geniet,” sê Bingle.
Hy vertel hoeveel nagte hy wakker gebel is om mense se diere wat in nood verkeer het te help. Dit was nie vir hom moeite nie want hy gee om vir diere en sou met min slaap oor die weg kom as dit sou beteken hy kan ’n dier se lewe red.
Dié nederige dokter is reeds 68 jaar oud. Hy en sy eggenote, Hester, het hulle pragtige eiendom en sy praktyk in Thabo Mbekistraat prysgegee vir hul nuwe nessie by Die Oog Aftree-oord.  Hy bedank al sy jare-lange kliënte vir hulle ge-troue ondersteuning en sê dit was vir hom ’n voorreg om deel van die gemeenskap te kon wees.
Drs. Antoinette Hamman en Sanja Coetzee het op 1 Maart amptelik die leisels by dr Bingle oorgeneem en sê hulle is opgewonde om tot diereliefhebbers se diens te wees. Dr. Bingle het die nuwe dokters voorspoed toegewens en versoek die gemeenskap vriendelik om hulle ook te ondersteun.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube