-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - Philip Keet, 'n 39-jarige boer van Mokopane het Sondagmiddag ’n noue ontkoming gehad toe hy deur ’n groep onbekende mans op sy plaas oorval en ontvoer is.
Keet is na berig word Sondagmiddag by sy tuinhek deur twee mans geroep wat kwansuis beeste wou koop. Hy het die mans vêrder op die plaaswerf vergesel en etlike meter van die plaashuis is hy deur ’n groot groep mans in ’n VW-bakkie en swart Audi oorval en rondgestamp.
Keet se vrou, Robyne wat gesien wat gebeur het, kon daarin slaag om waarskuwingskote van die huis af te vuur. Sy het ook onmiddellike hulp ontbied na sy gesien het hoe die mans haar man agterop die bakkie gooi en wegjaag.
’n Aankomende voertuig was Keet se enigste hoop. Hy het beduie hy benodig hulp waarop die bestuurder, ’n boer van die omgewing, tot Keet se redding gekom het. Die boer het omgedraai en in Keet se ontvoerders se rigting gery en hulle van die pad afgetrek. Keet kon daarin slaag om van die bakkie af te spring.
Die ontvoerders het Keet beskuldig dat hy ’n medepligtige was in ’n veediefstal waar beeste betrokke was. Na ’n woordewisseling het die ontvoerders ingestem om Keet by ’n naaste polisiekantoor te ontmoet vir die polisie om die saak te hanteer. Die ontvoerders het egter op pad na die polisiekantoor kop uitgetrek en in ’n ander rigting gery.
Keet is nie ernstig in die voorval beseer nie. Hy het ’n saak van ontvoering by die polisie aanhangig gemaak.
Die Keet-egpaar het na die voorval gesê hulle is innig dankbaar vir familie en vriende en het ook hulle dank uitgespreek teenoor hulle Hemelse Vader vir Sy groot genade.
0 Comments