<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Jagter deur leeu aangeval

 

Reinhard Heuser.

News : 06 Mar 2015 16675 Viewed By Lin media 0

VAALWATER – ‘n Bekende inwoner van Vaalwater en eienaar van Kwalata Wilderness buite dié dorp, Reinhard Heuser (34), is in ‘n stabiele toestand in MediClinic in Bloemfontein nadat hy verlede Woensdag tydens ‘n jagtog naby Bray in die Noordwesdeur ‘n leeumannetjie aangeval is.
Heuser is ’n professionele jagter wat sy oorsese kliënte uitgeneem het na die betrokke plaas in die Kalahari om ondermeer buffels te jag.
Jacques Spamer het Heuser bygestaan en die jagter het juis die buffels se spoor gevolg toe hulle op die leeu afkom.
“Ek het geweet van die leeus in die area en ons was dus gewapen,” verduidelik Spamer. “Ons het besluit om die buffels se spore te los en in ‘n sirkel weg te loop van waar ons die spore gesien het en dit is juis toe wat ons in die leeu vasloop het waar hy onder ‘n bos so 20m van ons af gelê het.”
“Voor ons kon terugbeweeg het die leeu ons gestorm,” sê hy. “Ons het dadelik geskiet maar ons kon nie die leeu plattrek nie – die volgende oomblik het hy vir Reinhard in die hande gekry en ons kon nie weer skiet totdat hulle op die grond geval het nie.”
“Ek het net geweet ek moet die leeu sodra moontlik van Reinhard af wegkry en toe storm ek op hulle af en skree vir die leeu,” verduidelik Spamer.
“Die volgende oomblik het die leeu vir Reinhard gelos en reguit op my afgestorm – ek het hom toe doodgeskiet met die .416-jaggeweer.”
Spamer en die ander jagters het die bloeding in Reinhard se linkerskouer probeer stop en daarna is hulle met hom na die dorpie Bray toe. “Hy is in die plaaslike dokter se Cessna 210 gelaai het waar na hulle hom Bloemfontein Mediclinic toe gevlieg het.”
Reinhard is stabiel en is behandel vir byt en krapmerke op sy skouer en rug. Hy word tans behandel om infeksie te voorkom.
“Reinhard het meestal net vleiswonde. Daar is 'n groot gat onder sy armholte en lelike tandmerke op sy skouer. Gelukkig het die leeu se tande regdeur sy arm gebyt en net vleiswonde veroorsaak,” het sy vrou, Caroline, gesê.
Volgens Caroline sal Reinhard vir ten minste nog twee weke in die hospitaal moet aansterk.
Heuser het op 'n 4000 ha plaas in die Noordwes-provinsie gejag, Die leeus loop vrylik rond en word nie gevoer nie, het Caroline gesê.
- LiN Nuus Die Pos/Noordelike Nuus

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube