-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die 17-jarige seun wat die Kiesling-egpaar verlede jaar op hulle plaas naby die Zanzibar grenspos koelbloedig doodgeskiet het, is verlede Donderdag in die Mokopane streekhof 32 jaar tronkstraf opgelê.
Die seun wat 16 was toe hy die moorde gepleeg en die egpaar se bakkie en vuurwapen gesteel het, is deur landdros Gerhard Pretorius gevonnis. Hy is 12 jaar vir elke moord opgelê en ’n verdere agt jaar vir die afsonderlike diefstalle. Hy sal effektief 12 jaar tronkstraf uitdien het Pretorius gesê en word tot 18-jarige ouderdom intussen in die jeug gevangenis in Polokwane aangehou.
Ofskoon die seun vir maande lank gesê het dat hy onskuldig is, het hy in Oktober skuldig gepleit en gesê dit is omdat hy moeg is.
Sielkundige verslae aan die hof het getoon die seun het psigopatiese neigings. ’n Definitiewe bevinding kan egter nie gemaak word nie aangesien die seun nog minderjarig is.
Erg omgekrapte familielede van die vermoorde egpaar wat tydens die vonnis by die hof teenwoordig was, het beduie hoe ongelukkig hulle is. “Ek sidder om te weet wat deur my ouers se gedagtes gegaan het voor die geweer afgevuur is,” het een van die dogters huilend buite die hof gesê. ’n Familielid het die vonnis as “belaglik” uitgekryt.
Die familie is dit eens dat die vrae met betrekking tot die seun se moord motief aanhoudend in hul koppe bly maal.
“Ons ouers was net goed vir hom en het dit beslis nie verdien om só wreed vermoor te word nie.”
0 Comments