-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Vier mans is vanoggend vroeg (Vrydag) in hegtenis geneem in verband met die moord op Dr. Louis-John Botha (64) op sy plaas, Gwelo, naby Swartwater. Die vier verdagtes is in Groblersdal gearresteer en ’n handwapen en kontant wat tydens die aanval gesteel is, is ook teruggevind.
Die vier mans, glo Zimbabwiërs, is deur die polisie en Die Spoorsnyers, ’n groep polisie reserviste wat in die ondersoek van plaasmoorde spesialiseer, vasgetrek in die vroeë oggendure. Volgens Die Spoorsnyers het een van die verdagtes vermoedelik in die verlede op die plaas gewerk. Dié man het as informant opgetree en die mans het per taxi van Groblersdal na Swartwater gereis, waar hulle na bewering vort is na Botha se plaas op hul gruweldade te pleeg.
Die mans, almal in hul twintigs, sal Maandag in die Mokopane-landdroshof verskyn op aanklag van moord. Botha se roudiens sal ook Maandag gehou word.
Botha is Saterdag by sy huis oorval deur die verdagtes. Hy is aangerand en dit blyk dat hy dood is weens houe teen sy kop, vermoedelik met stokkie of 'n graaf.
Volgens die polisie was Botha glo die naweek alleen op die plaas terwyl sy vriendin in Pretoria was. Sy het bekommerd geraak toe sy nie met hom in verbinding kon tree nie en het die bure gevra om ondersoek in te stel.
Die huis was oop, maar van Botha was daar geen teken nie. Die kluis het oopgestaan en daar was volgens getuies bloed in die huis en op die stoep.
Botha se liggaam is in ’n waterkuil 200m van die huis af, gevind. Uit die ondersoek blyk dit asof hy in die kuil gegooi is en vir dood agter gelaat is.
Dit is nog onduidelik wat uit die kluis gebuit is. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Botha, ‘n mediese dokter wat 15 jaar terug nog op Swartwater gepraktiseer het, boer sedert 2000 met wild. Hy laat twee dogters agter. Sy seun, Louis-John jr. het verlede jaar April sy lewe verloor in ’n vliegtuigongeluk op die ouderdom van 36.
Botha is die tweede boer wat hierdie jaar in die Bosveld-omgewing vermoor is. Susan Kotze is in Januarie op ‘n plaas naby Afguns buite Lephalale vermoedelik met ’n draadhanger verwurg. Philip Kgoantha (22), ’n werker op die plaas, is gearresteer in verband met die moord.
Noordelike Nuus dra ons innige simpatie aan Botha se familie en vriende oor.
0 Comments