-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Twee barmhartige samaritane is verlede Saterdag ernstig beseer toe hulle op ’n ongelukstoneel omgery is deur ’n Isuzu bakkie wat eenvoudig aangehou ry het.
Noel Botha (42) en Victor Mwachukwu (30) het onderskeidelik by ’n ongelukstoneel stilgehou en uitgeklim om die betrokkenes te hulp te snel toe hulle in die tref-en-trap-ongeluk betrek is.
Noel en Victor het langs die pad gestaan toe ’n wit dubbel kajuit bakkie van vooraf gery kom en hulle tref. Die bestuurder van die bakkie het volgens ooggetuies nie eers gestop nie, net verder bly ry.
Noel is in die Medi Clinic Hospitaal in Polokwane opgeneem en Victor in Ellisras Distrik Hospitaal, albei is stabiel.
Volgens Noel se skoonsuster, Vicky van Tonder, het dokters gesê dat Noel nie weer sal kan rugby speel nie en dat hy fisio sal moet kry om weer reg te kan loop. Hy het van sy rugwerwels beskadig en ook beserings opgedoen aan sy linkerskouer en regterbeen.
Tydens die oorspronklike ongeluk, het Roelof Booyse (23) en sy vriendin Elmien Olwagen (26) op pad na ‘n funksie gery toe die ongeluk gebeur het.
“My vriendin het stadiger gery toe daar ‘n voertuig van voor gekom het met sy hoofligte aan," sê Roelof. Hy verduidelik dat sy toe haar hoofligte ook aangesit het toe hulle die weerkaatsing van ’n motor wat stilgestaan het in die pad se nommerplaat sien.
Volgens Roelof kon Elmien nie na regs uitswaai nie, omdat daar aankomende verkeer was, sy het remme getrap en die stilstaande motor van agter getref. Niemand het ernstige beserings opgedoen nie, behalwe Noel en Victor wat eintlik net wou help.
‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die bestuurder van die wit Isuzu bakkie is ook nog nie opgespoor nie en enige iemand met inligting oor die voertuig of wie die bestuurder was kan die Lephalale polisie in kennis stel daarvan.
0 Comments