-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
SWARTWATER - Die vier beskuldigdes wat verlede Vrydag in hegtenis geneem is vir die moord op Dr. Louis–John Botha (64), ‘n wildboer van Swartwater, sal op 17 Maart weer in die Mokopane Landdroshof verskyn en moontlik vir borgtog sal aansoek doen.
Bruce Mho (23), Trymore Nyube (23), Daniel Lismart (27) en Anton Moyo (27) het Maandag, ’n week nadat Botha se liggaam op sy plaas, Gwedo, naby Swartwater gevind is, vir die eerste keer in die hof verskyn. Dit was ook dieselfde dag van Botha se roudiens.
Knap speurwerk deur die polisie en Die Spoorsnyers het tot die verdagtes se inhegtenisneming in Groblersdal gelei slegs dae na die aanval. Die vier beskuldigdes, waarvan een ’n voormalige werker was op Botha se plaas, is van Zimbabwe afkomstig.
Volgens die polisie verslag was Botha alleen op die plaas toe die aanvallers toegeslaan het. Sy vriendin wat saam met hom op die plaas woon, was in Pretoria vir die naweek. Sy het bekommerd geraak toe sy hom teen Sondag steeds nie in die hande kon kry nie en bure gevra om Maandag te gaan ondersoek instel. Hulle het hom nie dadelik opgespoor nie, maar die kluis was oop en daar was bloed in die huis.
Sy liggaam is in ’n waterkuil sowat 200m van die plaashuis gevind. Sy hande was vasgebind en hy is vermoedelik verskeie kere met ’n graaf en stokke geslaan en daar word vermoed dat ’n harde hou teen die kop sy dood veroorsaak het.
Botha, 'n mediese dokter, boer sedert 2000 met wild.
0 Comments