-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – In wat net as ’n tragiese ongeluk bestempel kan word, het twee tiener seuns hul ouers verloor, nadat die motor waarin hulle gery het onder ’n vragmotor beland het. Philip (43) en Chantal (39) Williams is in die vroeë oggendure van Saterdag dood in die ongeluk, terwyl hul jongste seun, Anthony (13), wat op die agterste sitplek gelê en slaap het, wonderbaarlik oorleef het.
Die egpaar en Anthony was om 03:00 op pad na ’n skole sportbyeenkoms in Louis Trichardt. Albei seuns is leerders by Hoërskool Ellisras (EHS).
Hul oudste seun, Albert (16), ’n graad 11 leerder, was in ’n skoolbus wat ook na Louis Trichardt op pad was. Die bus het sowat 'n halfuur na die Williams-egpaar vertrek.
Luidens gerugte het die vragmotor die Baltimore-afdraai gemis en toe ’n U-draai oor die pad gemaak.
Limpopo polisiewoordvoerder, Kol. Ronel Otto, sê die vragmotor het oor die pad
gestaan toe die ongeluk gebeur het – die Wiliams-egpaar het waarskynlik nie die
vragmotor betyds gesien nie.
Volgens Beeld het Anthony sy afrigter wat op die bus was, Naas Reynecke, gebel na die ongeluk. Reynecke het onmiddellik hulp ontbied.
Anthony het glo die motor se dak gebuig om uit die wrak te kom en is behandel vir snye en ’n gekneusde heup.
Fransa de Beer van EHS het die skool se medelye betuig met die afsterwe van die egpaar. “Mag hulle siele in die Hemel rus,” het sy gesê.
“Albert het op sy Whatsapp status gesê dat hul die beste ouers was waarvoor kinders kon vra - mag hierdie twee seuns aanhou om hul ouers trots te maak.”
Albert was die kaptein van die EHS o/16-span wat verlede jaar die Beeld trofee gewen het en Anthony het ’n brons medalje tydens die onlangse Bosveld Interhoër gewen.
’n Familielid het Noordelike Nuus gevra om asseblief “al Ellisras se mense te bedank vir hul bystand, ondersteuning en hulp gedurende hierdie baie moeilike tyd wat ons deurgaan – ons bedank almal namens die hele Williams-familie.”
’n Baie hartseer roudiens is Woensdag by die Hervormde Kerk in Onverwacht gehou, waar vriende, familie en leerders van EHS die twee seuns gaan bystaan het. Die egpaar sal later in Newcastle te ruste gelê word.
0 Comments