-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Na jare se soebat het inwoners in die Swartwater en Tom Burke omgewing besluit dat hulle nie langer vir SANRAL of die regering kan wag om die stuk R572-pad reg te maak nie. “Die pad word daagliks deur drie van Laerskool Unitas se skoolbussies gebruik asook ouers wat hul kinders gaan af- en oplaai,” sê Johan (Tank) Hendriks, lid van die Swartwater Boerevereniging.
Die Koedoesrandgemeenskap het ’n besluit geneem om die pad self te herstel. Hendriks sê dat ongeveer 100t teer nodig is teen ’n koste van R250 000. Die oopstoot en skoonmaak van die pad gaan ook sowat R250 000 kos. “Die totaal beloop ongeveer R500 000 sonder arbeidskoste en die teer se vervoer,” sê Hendriks.
Die pad, waar die teer plek-plek nie eers meer bestaan nie, is al vir meer as vier jaar onder bespreking – in 2012 het Noordelike Nuus reeds berig dat regeringsamptenare uitgespreek het oor kontrakteurs en konsultante wat verantwoordelik is vir onderhoud van paaie, maar nie presteer nie. Twee jaar later kan die pad beswaarlik ’n teerpad genoem word.
Noordelike Nuus het die maatskappy Superway geskakel wat gelys is as die kontrakteur wat deur SANRAL (wat die paaie in 2014 oorgeneem het) aangestel is vir die onderhoud en instandhouding van die betrokke stuk pad. ‘n Woordvoerder het erken dat hulle wel verantwoordelik is vir die pad, maar het verkies om nie te bevestig of daar wel enige geld en indien wel, hoeveel, hiervoor beskikbaar gestel is nie.
“Die pad is in ’n haglike toestand,” het Hendriks gesê, “almal wat die pad gebruik lei skade as gevolg van die slaggate en swak sig.”
Enige donasies en skenkings sal waardeer word. 'n Spesiale trust is gestig wat deur 'n prokureursfirma oorsien sal word. Belangstellendes kan Hendriks skakel by 076 649 5220 of epos:
tankhendriks@hotmail.com.
0 Comments