-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – ‘n Bekende veearts op Lephalale is byna uit duisende rande verkul deur swendelaars wat besigheidseienaars teiken met hul nuutste skelmstreek.
Verlede Donderdag het Dr Daniël Kriel ’n SMS- en epos-boodskap van sy bank ontvang dat daar ‘n tjek van R200 000 in die Mogol Dierekliniek se bankrekening inbetaal is. Kort na hy die boodskap ontvang het, het die Mogol Dierekliniek ‘n oproep van ‘n onbekende man gekry wat versoek dat die geld terugbetaal moet word, aangesien dit glo per ongeluk in sy rekening gedeponeer is.
Kriel se ontvangsdame besluit toe om eers ondersoek in te stel en bel die kliënt van wie die tjek glo gekom het aangesien die naam aan hulle bekend was. Die kliënt het toe aan hulle bevestig dat hy geen betaling aan Mogol Dierekliniek gemaak het nie.
Die ontvangsdame het toe die man wat gevra het dat die geld aan hom terugbetaal word teruggeskakel met die hoop dat sy meer inligting oor hom kan kry. “Hy wou net heeltyd weet hoekom ek vrae vra," sê sy. Hy het egter geen inligting gegee nie.
Romada Strydom, verhoudingsbestuurder by Eerste Nasionale Bank in Lephalale, het aan Noordelike Nuus verduidelik dat die soort foefie gereeld gebruik word om mense te kul om geld oor te betaal wat eintlik nooit inbetaal is nie. Dit is gewoonlik ’n tjek wat nie geldig is nie en na ‘n paar dae word die transaksie omgekeer omdat daar nooit regtig geld inbetaal is nie.
Strydom verduidelik dat van die inligting op die tjek uitgehaal en vervang word met ander gegewens. “Kliënte moet versigtig wees en indien iemand jou kontak en sê 'n groot som geld is verkeerdelik in jou rekening inbetaal, kontak jou bank dadelik dat hulle kan ondersoek instel," sê Strydom.
0 Comments