<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Meer navorsing nodig vir myn

 

Die CWSM se verslag sê ook daar is nie genoeg water in die Nylrivier sisteem vir huidige gebruikers én die beoogde myn nie.

News : 19 Mar 2015 238 Viewed By Jasper Raats 0

MOKOPANE - Die teorie dat ‘n ondeurdringbare kleilaag die grondwater en die oppervlakwater in die Nyl-vloedvlakte skei word in ‘n verslag deur Dr. Rainier Dennis en sy span van die Noordwes Universiteit se afdeling vir waterstudies en bestuur (CWSM) bevraagteken.
Dié instansie het die beoogde myn se omgewingsimpakstudieverslag op versoek van die Nyl Aksiegroep hersien. Dit is juis op grond van die kleilaag teorie dat Sylvania Platinum meen dit is veilig om ‘n oopgroef myn in die vloedvlakte so 15km suid van Mokopane op te rig.
Die omgewingskonsultant wat deur Sylvania Platinum aangestel is om die omgewingsimpakstudie te behartig,
E-Science & Associates, het tot onlangs volgehou dat oppervlakwater in die Nyl, ‘n nie-standhoudende rivier, geen impak op grondwatervlakke het nie. Daar is aangevoer dat ‘n kleilaag die twee waterbronne skei. Toetsboorgate het egter die teendeel aange-dui tydens verlede jaar se vloed.
Dr. Giep du Toit wat die hidrologiese studie vir E-Science behartig het sê nou dit is die rivier wat wyer as die kleilaag vloei wanneer dit in vloed kom en so die grondwaterbron aanvul. Maar Dennis meen die kleilaag teorie en die interaksie tussen oppervlak en grondwater verg meer navorsing voordat ‘n besluit geneem kan word.
Die CWSM se verslag sê ook daar is nie genoeg water in die Nylrivier sisteem vir huidige gebruikers én die beoogde myn nie.
Hoewel Dennis in sy hersienningsverslag aandui dat die E-Science verslag tegnies korrek is, meen hy daar is leemtes in veral die aannames oor die beskikbaarheid van water, die impak wat die myn op grondwater bronne gaan hê en die risiko vir besoedeling.
Hy waarsku dat die beplande oopgroef myn katastrofiese gevolge vir die omgewing se grondwater beskikbaarheid kan inhou. Hy meen dié waterbron is alreeds onder druk en word waarskynlik oorbenut.
E-Science se Theo Fischer het boere in die omgewing vroeër daarvan beskuldig dat hulle meer water uit hul boorgate onttrek as wat hulle aan die departement van waterwese verklaar.
In sy mees onlangse impakstudie voorlegging het Fischer egter aangedui dat boere minder water onttrek as wat hy aanvanklik gedink het en dat daar  genoeg grondwater beskikbaar is.

Sylvania beplan om die grondwater wat deur die walle van die oopgroef insypel uit te pomp, te stoor en dan vir mynbedrywighede te gebruik.
Dennis sê hierdie water se volumes kan die beskikbare bron oorskry as dit teen ‘n koers van 21m2 per dag by die oopgroef van meer as 100m diep invloei.
Hy waarsku ook dat die impaksone van die oopgroef op die watertafel groter kan wees as net die onttrekkingskegel soos wat in die omgewingsimpakstudie aangedui word. Hy verduidelik dat so ‘n onttrekkingskegel (die waterleemte wat vorm rondom die myn) ook ‘n opvangs zone het vanwaar die water heeltyd invvloei.
Dit strook met boere in die omgewing se waarnemings dat boorgate baie verder op mekaar impakteer as die geskatte impak van tussen 300m en 600m in die impakstudie-verslag.
Dr. Du Toit stem saam dat daar waarskynlik meer grondwater onttrek word vir landbou as wat in die studie aangedui is. Hy wys egter daarop dat boere nie bereid was om konsultante toe te laat om watermeters te installeer om so die werklike gebruik te bepaal nie. Besproeïngsvolumes is geskat op grond van aanplantings.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube