<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Nou gaan ons kook!

 
News : 27 Mar 2015 213 Viewed By NoordNuus reporter 0

LEPHALALE - As jy eenmaal ‘n kookklas van die bekende Sjef, Hannetjie Joubert bygewoon het, kyk jy nooit weer dieselfde na kosmaak nie. Skielik word wat eens ‘n dag-na-dag beslommernis was - ‘n avontuur  en ‘n kuns.
Jy kan amper nie wag om alles wat jy geleer het in jou eie kombuis te gaan beproef nie!
Hannetjie het in die 1980’s reeds bekendheid verwerf toe sy as die Vleisraad se Braaikoningin gekroon is. Hiermee word sy die eerste vrou wat hierdie gesogte prys inpalm. Sy het Huishoudkunde aan die Potchefstroomse Universiteit studeer en daarna die gevorderde kurses aan die Cordon bleu-kookskool in Johannesburg voltooi. Met 30 jaar se ondervinding as ‘n sjef en dosent aan die universiteit van Pretoria en met drie boektitels agter haar naam is sy vandag een van Suid-Afrika se voorste kenners op haar gebied.
Deesdae woon dié bekende in koskringe op ‘n plaas net buite Lephalale waar sy “rus vir haar siel kom vind het.” Maar van rus - as dit kom by haar grootliefde - is daar nie sprake nie. In hierdie Bosvelddorpie word daar deesdae gekook dat dit klap en danksy Hannetjie se kookklasse word daar  in verskeie huise in die dorp kos uit die boonste rakke gemaak.
Hannetjie deel graag haar kosgeheime en sê sy is 'n “resep-verslaafde met 'n diepgewortelde behoefte om onthoukos, wat ook maklik is om te berei, te ontwikkel en aan mense te leer.”
Gesels jy met die vroue wat al by haar klas geloop het, praat hulle almal uit een mond. Almal het baie lof vir haar aanbiedingstyl en meen dat hulle ‘n nuwe lus en ywer vir kosmaak gevind het. In Hannetjie se klas leer jy hoe om bekostigbare kos voor te berei met min moeite. Een van haar boeke Só Kook Mens handel juis hieroor. Dit is gebaseer op ‘n beginsel genaamd kettingkook, anders gestel – om meer as een porsie kos voor te berei en dan te vries vir latere gebruik. Hierdie porsies kan dan weer opgetower word vir ‘n heel ander vorm en voorkoms.
Deur die loop van haar klas en ook in haar boek deel sy verskeie variasie-resepte wat sorg dat alledaagse kosmaak ‘n nuwe avontuur word.
Toerisme instansies kan ook gerus by haar kom kers opsteek. Met meer as tien jaar se ondervinding as 'n Tegniese bestuurder, waar sy produk-ontwikkeling gedoen het vir firmas soos Woolworths en Pick`n Pay, kan sy lodges en gastehuise adviseer op vele gebiede.
Vir meer inligting oor haar klasse kontak haar gerus by hanikis@tiscali.co.za.

 

 

 
 

Hannetjie Joubert.

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube