-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Koedoesrandgemeenskap het self ingespring en die stuk R572-pad tussen Swartwater en Tom Burke, wat in haglike toestand was, self reggemaak.
Die pad, wat ook die Platjan-, Zanzibar- en Groblersbrug grensposte bedien, is al jare ’n bron van kommer omdat die regering dit nie regmaak nie. Boere het intussen self geld begin ingesamel en ‘n trust gestig om die pad, wat ook deur Laerskool Unitas ouers gebruik word om hul kinders by die skool te kry, self reg te maak.
Johan (Tank) Hendriks van die Swartwater Boerevereniging sê dat die boere toestemming gekry het by die Limpopo se departement van paaie en vervoer om self Dinsdag die pad reg te maak. Alhoewel die regering nie via SANRAL hul finansiële verpligting nakom nie, het hulle darem ‘n span werkers beskikbaar gestel om te help die pad regmaak. “Ons het sowat 18t teer gebruik en so 7km se slaggate herstel en opgevul,” sê Hendriks. “Ons het ses stampers gehuur om die teer vas te stamp en hoop dat die pad nou nie meer lewens in gevaar sal stel nie.”
Hendriks het sy hoop uitgespreek dat die regering steeds sy verpligtinge sal nakom en die paaie in die area sal regmaak voordat daar ’n ernstige ongeluk plaasvind. “Intussen sal ons aanhou totdat ons fondse opraak,” sê Hendriks. Kontak Hendriks by 076 649 5220 of per epos tankhendriks@hotmail.com.
0 Comments