-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Noordelike Nuus-span bars behoorlik van trots nadat hulle onlangs weggestap het met die toekenning vir Beste Webwerf tydens die Limpopo Independent Newspapers (LiN Media) se jaarlikse toekenningsgeleentheid wat by Koro Creek-gholflandgoed op Modimolle aangebied is.
Dit is die derde jaar dat dié geleentheid plaasvind waartydens onafhanklike koerante in dié provinsie se uitnemendheid in skryfkuns, ontwerp en fotografie bekroon word. Die onafhanklike koerante in Limpopo wat aan die LiN-groep behoort, is Noordelike Nuus (Mokopane en Lephalale), Laeveld Bulletin (Tzaneen), Zoutpansberger (Louis Trichardt), Limpopo Mirror (Venda), Die Pos en The Beat (Bela-Bela, Modimolle, Vaalwater en Mookgophong), Kruger2Canyon (Hoedspruit en Phalaborwa).
Die beoordelaars is almal swaargewigte in die media-bedryf. Die skryfafdeling is deur Tobie van den Bergh, wenner van verskeie joernalistieke toekennings en meer as 30 jaar die redakteur van die plaaslike koerant in Middelburg, beoordeel. Peter Morey, wat jare by die redaksiespan van Pretoria News betrokke was, het die fotografie-afdeling beoordeel. Jason Norwood-Young, wat onder meer die sagteware ontwikkel het vir Mail&Guardian se webtuiste, het die webtuistes beoordeel. Die koerante as geheel, asook die bylaes is beoordeel deur drs. Lizette Odendaal, Pedro Diederichs en Hilke Steenkamp van Tshwane University of Technology se departement joernalistiek.
Noordelike Nuus se Jasper Raats was ook onder die top drie wenners vir die beste skrywer van menslike nuus en veral sy storie oor die Waterberg boereorkes is geprys as puik literatuur.
Die Pos is vir die tweede jaar aangewys as koerant van die jaar in die LiN-groep.
Gaan loer gerus in op Noordelike Nuus se webwerf www.noordnuus.co.za.
0 Comments