-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Vir Janet Prinsloo het Saterdagoggend soos enige ander oggend begin, maar min het sy geweet daar lê 'n yslike 4m lange luislang onder haar bed en wag.
Prinsloo is die eienaar van die Biltong-Go-Back padstal buite Vaalwater en sê sy het op haar bed gaan sit om haar kouse aan te trek to iets haar aan die hakskeen 'gryp'.
Die sakevrou sê haar vier honde was al om haar en het teenaan haar gestaan die oggend. Sy het 'n 'swart ding' onder die bed sien uitkom en die volgende
oomblik het dit soos 'n klamp om haar hakskeen gevoel.
“Ek het geskok afgekyk en hierdie verskriklike groot slangkop met tande aan my hakskeen gesien vasbyt,” sê Prinsloo.
Janet het glo vir haar seun, Jacobus, geskree dat hy haar verloofde moet roep om te kom help en dadelik probeer om die slang af te kry. “Ek het gevoel hoe sy tande deur my vleis sny.”
Sy het sy kake probeer oopdwing, maar die slang was baie sterk. Prinsloo sê sy vermoed die bedpoot het gekeer dat die luislang sy lyf om haar been kon draai. "Die hele kamer was vol bloed soos ek gestoei het," sê sy geskok. Die slang het haar vyf keer gebyt, maar sy het daarin geslaag om haar los te wikkel en het op die grond geval waarna sy haarself weggeskop het en by die slaapkamerdeur uit is. “My verloofde, Brent Birk, het my been afgebind met ‘n skoenveter. “Ons het steeds nie geweet watter slang dit is nie, omdat die grootste gedeelte nog onder die bed was.”
Brent het met Janet na Lephalale MediClinic gejaag en nadat sy gestabiliseer is teruggery plaas toe. Die slang is van kant gemaak en toe eers het die familie gesien dat dit ‘n reuse lui-slang is wat darem nie giftig is nie.
Dié gesin bedank MediClinic asook Sasol vulstasie wat hulle bygestaan het.
0 Comments