-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Die gemeenskap van dié dorp is tot in sy fondamente geskud na die wrede aanval en verkragting van ‘n geliefde 40-jarige inwoner terwyl sy en haar gesin besig was om te verhuis na ‘n plaas nadat hulle vyf jaar in die dorp gewoon het.
Die vrou, wie se identiteit beskerm word, en haar drie kinders is oorval op die plaas tussen Vaalwater en Lephalale net nadat haar man gery het om die volgende vrag meubels in die dorp te gaan haal.
“Die gesin is platgeslaan en getraumatiseerd,” het ‘n vriendin van die familie aan Noordelike Nuus gesê. “Dit het helder oordag gebeur en die aanvaller het toegeslaan toe hulle weerbaar was, ons harte is stukkend vir hulle.”
Die vrou was omstreeks 16:00 binne in die huis toe sy deur ‘n man oorval is. Hy het haar, volgens die polisie verslag, gegryp en uit die huis gesleep, erg aangerand en oor die kop geslaan met ‘n skerp voorwerp. Daarna het die verdagte haar verkrag, maar sy het verbete teruggeveg om haarself en haar kinders te beskerm.
Die verdagte het op die vlug geslaan met slegs twee selfone, volgens die vrou.
Toe haar man terugkeer van die dorp af het hy sy vrou buite op die gras gekry en die polisie ontbied. Die vrou het mediese behandeling ontvang en het ‘n volle verklaring by die polisie afgelê.
Gemeenskapslede het die gesin gehelp om al hul besittings terug te trek dorp toe en hulle gaan tans by vriende tuis aangesien hulle nie kans sien om terug te keer na die plaas toe nie.
Die Lephalale polisie, asook polisielede van nabygeleë dorpe het spoorgesny om die verdagte vas te trek. ‘n Saak van diefstal, verkragting en aanranding met die doel op ernstig te beseer word onderstoek. Teen druktyd was die verdagte steeds op vrye voet.
Die gesin bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning en hulp in hierdie donker tyd, maar vra ook vir almal om tyd te gee vir die gesin om te herstel na dié vreeslike voorval.
0 Comments