-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Tiaan Geldenhuys, ‘n 16-jarige leerder van Hoërskool Ellisras, het in Desember nuus gemaak toe hy tydens ‘n rugby wedstryd in Nederland inmekaar gesak het. Verslae het sy spanmaats en toeskouers gesien hoe die jong seun van die veld afgedra word weens ‘n beroerte aanval – ongehoord by so ‘n jong seun.
Marius Geldenhuys, Tiaan se pa, verduidelik aan Noordelike Nuus dat dit ‘n reuse skok was toe die spanafrigter hom kontak en vertel wat sy seun oorgekom het. “Ek het eers gedink dis 'n grap,” sê hy, maar hy het blitsig besef dis ‘n werklikheid. Dit het hom vier dae geneem om die nodige reëlings en dokumentasie in plek te kry om van die Midde Ooste, waar hy in daardie stadium was, tot in Nederland te kom, om by Tiaan te wees.
Tiaan, wat gelukkig gou na die voorval ontslaan is, reis steeds weekliks na Pretoria vir terapie om hom te help herstel. Hy het sy lewe hervat en gaan voort nes enige ander seun van sy ouderdom.
Ongelukkig het dokters ses weke gelede aan Tiaan bevestig dat hy nie gou weer op die rugbyveld sal kan pronk nie, aangesien die risiko net te groot is en dat enige kontaksport tans buite die kwessie is. Dokters het besluit om nie kanse te vat dat Tiaan dalk weer ‘n beroerte kan kry nie, want die potensiële skade kan fataal wees.
“Die rugbyspan waarin ek gespeel het, het vir my ‘n nommer 23 trui laat maak en het ek het ook tydens een van hulle wedstryde voor uitgedraf op die veld,” sê Tiaan trots.
Al is Tiaan se rugbydae verby, oorweeg hy om steeds deel te wees van die sport, dalk in die vorm van afrigting of selfs as skeidsregter. “Op hierdie manier sal Tiaan steeds deel van die wedstryd kan wees, al is dit nou nie om self te kan speel nie,” sê Marius.
Baie ouers is fanaties oor sport en is geneig om soms verby hul kinders se sportbeserings te kyk as dit nie op die oog af ernstig lyk nie, was Marius se opinie. “Dit is uiters belangrik vir ouers om die nodige mediese behandeling te kry indien daar enige ‘n sportbesering opgedoen is,” sê Marius. “Wees liewer te versigtig.”
Hierdie gesin het baie nader aanmekaar gekom na die voorval en ondersteun mekaar in alles wat hulle aanpak. “Ons almal is nou nader aan God en het ons lewens reggeruk,” sê Marius. Hy is dankbaar dat sy seun gespaar is.
Tiaan is dankbaar vir die ondersteuning van Erna Pistorius, wat soos ‘n ma vir hom is en ook haar dogters tot nou gegee het, sy gee glo elke tree saam die gesin. Marius bedank ook die gemeenskap vir hulle ondersteuning en omgee.
0 Comments