-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Die wrede aanval en verkragting van ‘n welbekende 40-jarige vrou in die Vaalwater-omgewing op 23 Maart die jaar het die dorp tot in sy fondamente geruk.
Mariaan Wentzel, bestuurder van die Lephalale DBV en ‘n bekende gesig in die dorp, het Saterdagmiddag tydens ‘n optog teen verkragting en geweld teen vroue en kinders vir die eerste keer in die openbaar oor haar aanval gepraat: “Ek sou graag vir my aanvaller wil sê dat ek hom vergewe, maar dat hy eendag voor God sal moet boete doen oor wat hy aan my gedoen het,” het ‘n baie dapper Mariaan voor die skare van ongeveer 100 mense gesê.
‘n Groep ondersteuners het vanaf die parkeerarea by Lephalale Mall tot by die Mogol Klub geloop ter ondersteuning van Mariaan en soortgelyke slagoffers.
Attie Venter en lede van verskeie plaaslike motorfietsryer klubs het hul volle ondersteuning aan die geleentheid gebied en die organiseerders van die byeenkoms het hulle opregte dank teenoor die groep uitgespreek.
“Dit is werklik verblydend om te sien dat die mans en vrouens van die motorfietsryers klub altyd gewillig is om ons te ondersteun en op te staan vir reg en geregtigheid," het Charmaine Robberts, een van die organiseerders, gesê.
Mariaan en haar man, Manie Wentzel, het slagoffers gemaan om na vore te kom en te praat oor wat met hulle gebeur het: “Slagoffers het niks om oor skuldig te voel nie," het Mariaan gesê. "Die verdagtes moet geïdentifiseer en vasgetrek word.”
Die skare het ballonne ontvang wat vrygelaat is terwyl die motorfietsryers 'n
eerbetoning gegee het.
Mariaan het gesê dat sy haar werk by die DBV gaan opgee om te help om slagoffer krisis sentrums te stig.
0 Comments