<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Dokter vir dood agtergelaat

 
Die stuk hout met spy­kers wat deur twee aan­val­lers ge­bruik.
News : 24 Apr 2015 568 Viewed By Die Pos-span/The Post team 0

VAALWATER - Beurt­krag het ver­moe­de­lik die le­wens van ’n bejaarde dok­ter en sy vrien­din ge­red nadat hulle verlede na­week op sy plaas Over­sprong naby Melk­ri­vier in die Vaal­wa­ter-om­ge­wing deur twee aan­val­lers oorval en vir dood ag­ter­ge­laat is.
Dr. George Meyer (79) se vrien­din, Ter­sia Prins­loo, was verlede Vrydagmid­dag besig om kos te maak, toe sy twee mans agter haar in die kom­buis gewaar het. “Een het ’n klap­mus gedra en albei was netjies aan­ge­trek. Ek het skaars tyd gehad om oor die skok te kom, toe hulle my ta­kel. Ek was binne mi­nu­te bewus­te­loos op die kom­buis­vloer ná ’n harde hou oor die kop. Net voor ek my bewus­syn verloor het, het ek onthou dat George uit is om die pomp te gaan af­ska­kel,” het Prinsloo ver­tel.
Die twee boos­wigte het Meyer op die stoep in­ge­wag en daar met ’n stok vol spy­kers aan­ge­val. Hulle het hom aan­hou­dend geslaan totdat hy sy bewus­syn verloor het.
Hy was tydelik in ’n koma wat volgens Meyer se familie­vriend, Chris­to Ven­ter, eie­naar van Geluks­fon­tein Bok­melk­plaas, moont­lik toe te skryf is aan sy vriend se suiker­siek­te.
Prinsloo het gesê dat die mans in En­gels met mekaar en met hulle ge­praat het. “Hulle het ons vrees­lik ge­slaan en ver­niel. Ons het albei nader­hand net op die grond gelê.”
Prins­loo het in­tus­sen haar bewus­syn herwin, maar Meyer was steeds bewus­te­loos. “Ek het gemaak of ek dood is. Ek kon hoor hoe hulle vir mekaar sê hulle moet ons eer­der dood­maak en een het ’n hand­wapen op my gerig. Die wapen het ge­luk­kig slegs ’n klik­geluid gemaak en ná ’n paar keer se probeer, het die man moed opgegee,” vertel Prinsloo.
Die krag het teen ongeveer 18:00 afge­gaan en dit was pik­do­nker in die huis.
Prinsloo vertel dat die aan­val­lers haar en Meyer ver­moedelik nie meer dui­de­lik kon sien nie. Hulle het die twee slag­of­fers daarna baie styf probeer vas­maak en Prinsloo glo vas hulle is vir dood ag­ter­ge­laat. Sy glo ook dat beurt­krag hul lewens gered het.
Die ver­dag­tes het die huis teen on­ge­veer 19:00 uur ver­laat. Prins­loo sê dat Meyer later deur die nag sy bewus­syn herwin het. Toe die ligte weer aan­kom, het die twee hul­self los­ge­woel en met behulp van ’n mes kon Meyer vir Prins­loo los­sny.
Hulle kon egter nie hulp ontbied nie, omdat die aan­val­lers hul voer­tuig en sel­fone ge­steel het. Prinsloo het die Sondag­og­gend vroeg na ’n naby­ge­leë plaas­winkel ge­loop vanwaar sy die Dor­set-po­li­sie­kan­toor ge­ska­kel het.
Albei is eers na die FH Oden­daal-hos­pi­taal op Mo­di­molle geneem, maar later na die Mon­tana-hospitaal in Pre­to­ria oor­ge­plaas. Die twee het verskeie bese­rings opge­doen waaronder kneus­plekke, stuk­ken­de won­de en kop­beserings.­ Prinsloo se arm is ook ge­breek en Meyer het vier gebreek­te ribbes. Prinsloo is reeds op 19 April ont­slaan maar Meyer was nog teen druktyd in die hos­pi­taal.
Kol. Ronel Otto, woord­voer­der van die polisie in Lim­popo, het be­ves­tig dat die aan­val­lers gewa­pen en ge­vaar­lik is en dat die saak ver­der on­der­soek word. Die polisie se pro­vin­sia­le taak­span, on­der lei­ding van kol. Sak­kie Lou­rens, lei die onder­soek.
Die Spoor­snyers, ’n groep vry­willi­gers wat help om mis­daad in die Water­berg-om­ge­wing te be­kamp, is ook na die to­neel ont­bied. “Ons het spore na die mis­daad­to­neel ge­volg, maar voor­dat ons be­hoor­lik vor­dering kon maak, het dit ver­skrik­lik hard begin reën. Die spore wat ge­kry is, vorm wel deel van die on­der­soek,” het Vossie Vos­loo, een van die spoor­sny­ers gesê.
Meyer se dogter, Sa­ri­ta, het lank op Vaal­water gewoon waar sy ’n sake-on­der­ne­ming bestuur het. Meyer het voor­heen as radioloog in Pre­toria geprak­ti­seer. Daar was na verneem word geen werkers op die plaas ty­dens die aan­val nie.
’n Wit Toyota Hilux-bak­kie met die re­gi­stra­sie­nom­mer VLS 703 GP, ’n klein kon­tantbedrag en twee sel­fone,  asook drie vuur­­wa­pens, ’n 30-06, ’n 9mm-pistool en ’n wind­buks, is ge­steel.
— Lin Nuus/die Pos

 

 

 
 

Die stoep en voor­deur by dr. George Meyer se plaas Over­sprong naby Melk­ri­vier in die Vaal­water-om­ge­wing. Bloed kan dui­delik op die stoep ge­sien word waar Meyer deur die twee aan­val­lers in­ge­wag en oor­val is.

 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube