-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
VAALWATER – In die vierde aanval in minder as twee maande in dié streek is ‘n plaasbestuurder van Vaalwater verlede Vrydagoggend ernstig aangerand en raakgeskiet.
Ian van Druten (44), die bestuurder op die plaas Olifantsbeen, het die honde op sy werf hoor blaf in die vroeë oggendure en buitentoe gegaan om te gaan ondersoek instel toe hy deur drie mans oorval is.
Ian het vir sy vrou, Wilma, geskreeu om die veiligheidshek van die woning te sluit terwyl hy besig was om met die aanvallers te stoei. Twee skote is afgevuur. Minstens een het hom in die gesig getref. Die aanvallers ook 'n vuurwapen op Wilma gerig, maar haar nie raakgeskiet nie.
Sy het toe die plaaslike gemeenskapspolisiëringstak en polisie gekontak en hulle is uit na die toneel.
Daar is gepoog is om die aanvallers se voetspore te volg, maar dit het by ‘n stroompie doodgeloop.
Volgens Kol Ronel Otto, die Limpopo polisiewoordvoerder, is Van Druten se toestand kritiek maar bestendig. Hy is tans in die hoësorgeenheid van Unitas-hospitaal in Pretoria.
Die aanval volg op verlede week se aanval op Dr George Meyer (79) en sy vriendin, 'n aanval op 'n bejaarde egpaar enkele weke vantevore asook die verkragting van 'n vrou helder oordag in die Dorset-area.
Van Druten se aanval het mense regoor die land geskok nadat nuus van die aanval op sosiale netwerke versprei is en verskeie oproepe is gemaak vir mense om die Van Drutens in hulle gebede te dra.
Sondagoggend het baie kerke in die Lephalale-omgewing ‘n spesiale gebed gedoen om plaasaanvalle en aanvalle teen buitelanders halt te roep.
"Ek woon ook op 'n plaas in die Vaalwater omgewing," het een vrou aan Noordelike Nuus gesê. "Ek sukkel in die aande om te slaap omdat ek so bang is, dis net my gebede wat my krag gee."
0 Comments