-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Karwagte vorm deel van Suid-Afrika se informele ekonomie, nes die smouse en motor wassers wat jou oral inwag. Limpopo is een van die land se armste provinsies en met werkloosheid wat styg het die hoeveelheid informele werkers drasties toegeneem. Karwagte is deesdae te sien by elke inkopie sentrum en word verduur deur die samelewing – soms met ’n vriendelike, oop hand en soms met ’n veragtelike frons. Wat is die rol van karwagte nou eintlik?
Om ’n karwag te word neem nie baie
inspanning nie en die inkomste is belasting-vry. Hulle bied so tikseltjie gerustheid teen misdaad en beloof om jou motor op te pas teen ’n relatief goedkoop fooitjie.
Ons almal ken die gevoel as jy na jou motor loop en dan hoor jy die voetstappe, jy sien die beweging uit die hoek van jou oog, en nog voordat jy jou deur oopmaak, hoor jy: “Ja, dankie, alles is reg met jou kar.” Dan voel-voel jy maar so vir ‘n kleingeld voordat jy in jou motor klim en wegry.
Hulle word deur die samelewing aanvaar, maar party inwoners voel dat karwagte niks anders as ‘beskermde bedelaars’ is nie, terwyl ander weer voel dat hulle ’n waardevolle diens bied.
Min inwoners weet egter dat karwagte betaal vir die voorreg om in die parkeerterrein te staan en jou motor op te pas.
Michael Modiba, wat reeds vier maande as ’n karwag in Lephalale werk, sê hy sukkel om te oorleef. “Ek moet die sekuriteitsfirma R30 per dag betaal [om as karwag te werk] en my vervoer van Marapong af is ’n verdere R20.”
Modiba, ’n getroude man met twee kinders en ’n derde baba op pad, sê dat hy ongeveer R80 per dag verdien uit fooitjies. Hy sê hoe hy mense benader bepaal hoe hy behandel word. Hy sê dat karwagte se rol onderskat word, want hy het twee maande gelede iemand aangekeer wat probeer het om in ’n motor in te breek.
“Ek kan verstaan dat hierdie mense hard moet werk in die wind en son vir hul geld,” sê Lephalale-inwoner, Susan van Rensburg, “maar ek voel net dat hulle ’n fooitjie verdien as daar ’n diens verskaf word.”
’n Mokopane inwoner wat verkies om nie sy naam te noem nie, sê karwagte is vir hom vermoeiend. Hy het ’n vinnige berekening gemaak van die bedrag wat hy gemiddeld aan karwagte sou spandeer vir een keer se inkopies by sowat vyf verskillende winkels in die dorp. Hy sou ’n minimum bedrag van R25 opdok.
Daar was nog gemeenskapslede wat gekla het dat hulle kan nie ‘n bydrae kan lewer nie aangesien die ekonomie druk. “Ek glo karwagte, veral dié wat by die polisie of die sakekamers geregistreer is, verdien ’n eerlike inkomste. Ek sal nooit by een verbyloop sonder om iets te gee nie,” het ’n persoon op een van die dorp se buurtwag radiokanale gesê.
Thomas Matjeke (34) van Tsamahansi is ’n karwag by die Mokopane Crossing sentrum. Hy het drie afhanklikes, sy vrou en twee kinders (2 en 5 jaar). Hy sê hy pas karre op omdat hy nie van skelms hou nie en as verwer was daar nie altyd werk nie. “Ek het huise geverf, maar die geld was baie min,” sê hy en vertel dat hy ’n gemiddeld van R150 per dag verdien en soms tot R350 per dag.
Hy het ook al glo met ’n hele paar skelms te doen gehad. Spesifiek misdadigers wat met ’n afstandbeheer ronddwaal en met motors se slotmeganismes peuter.
Matjeke sê dit is onaangenaam wanneer sommige motoriste hulle nie eers groet nie. Hy sê ook hy verstaan almal kan nie altyd geld gee nie en bedank dié wat wel met goeie bedoelings ’n bydrae lewer.
Willem Nortjé wat by die Lephalale Mall diens doen, sê hy is al 21 jaar in die ‘besigheid.’ Hy gee glad nie om oor die dagfooi wat die sekuriteitsfirma vra nie: “Ons kry hemde, broeke en selfs glimbaadjies wat help dat ons maklik raakgesien kan word.”
Hy sê dat karwagte ’n uiters belangrike rol speel in misdaadvoorkoming. Hy het self al ’n paar kriminele vasgetrek en sê dat enige verdagte optrede dadelik gerapporteer word. “Ons het radio’s om met mekaar in kontak te bly.”
Karwagte wat nou by die Mokopane Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gere-gistreer is word met nuwe glimbaadjies voorsien. Karwagte se algemene terugvoer na hulle die baadjies dra is positief.
Pieter Geldenhuys (22) van Mokopane het geen afhanklikes nie en is vir die afgelope vier maande ’n karwag by die Spar inkopie sentrum in Mokopane. Hy sê hy ’n meganikus en hy kry nie werk nie. Hy pas karre op terwyl hy hoop op positiewe terugvoer van werkgewers waar hy sy CV ingehandig het. Hy verdien ’n gemiddeld van R90 tot R100 per dag. Geldenhuys beweer hy het reeds 10 verdagtes gearresteer en aan die polisie oorhandig.
“Die publiek is redelik goedgesind teenoor my. Soms word ek ‘n koeldrank in die hand gestop wanneer die persoon nie kleingeld het nie,” sê hy.
Knowledge Gwatinyamya is ’n karwag by Lephalale Square en verdien sowat R150 per dag, hy betaal ook R20 aan die sekuriteitsfirma en R30 vir vervoer. Hy sê dat mense baie vriendelik is en hom goedgesind is. “Ek weet dat ek help om misdaad te voorkom,” sê hy en noem dat hy verlede jaar iemand wat met ’n afstandbeheer toestel probeer motors oopsluit het, vasgetrek het.
Hester Pieterse (42) woon in Mokopane en pas vir die afgelope 13 jaar motors op saam met haar 67-jarige moeder, Maria Grobler. Hulle is daagliks by die Absa sentrum waar hulle ’n ogie hou. Pieterse se man verdien se inkomste wkan nie hulle basiese uitgawes dek nie. Motors oppas is haar enigste opsie aangesien sy nie werk elders kry nie. ’n Beenbesering dra ook daartoe by dat sy nie werk kan kry nie.
“Hier verdien ons R50 per dag as ons gelukkig is. Sommige dae moet ons tevrede wees met so min as R7,” sê sy.
0 Comments