-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Die afgestorwe akteur Johan van der Merwe se dogter, Mart-Marie van der Merwe, het besluit om hierdie dorp haar nuwe tuiste te maak.
Johan was ‘n bekende akteur wat in Nommer Asseblief, Hoofmeisie en Parys Parys gespeel het. Hy is op 62-jarige ouderdom aan ‘n hartaanval oorlede en sy dogter beweer dat sy nooit lus gehad het om in sy voetspore te volg nie.
Hierdie bekwame dame is ‘n professionele jagter en daar is nie ‘n bang haar op haar kop nie. "Behalwe slange! Ek gil soos ‘n klein meisie as ek ‘n slang sien," sê sy laggend toe ek met haar gesels.
Mart-Marie het tot onlangs nog by die Staatsteater in Pretoria gewerk, maar sy sê dat sy eintlik ‘n Bosveld-meisie is en nooit regtig gelukkig was met die stadsliggies nie. "Ek het eendag vir my pa gesê ek wil ‘n veearts word en sy antwoord was dat dit nie ‘n gepaste werk vir ‘n vrou is nie," vertel Mart-Marie laggend. "Hy wou bitter graag gehad het ek moes ‘n prokureur word, maar toe ek op universiteit kom en vir my LLB begin studeer het ek geweet dis nie vir my nie."
Mart-Marie is passievol oor haar werk as professionele jagter waarvoor sy aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het. "Ek glo dat gereguleerde jag essensieel is vir Suid Afrika," sê sy. "Wat baie mense nie besef nie is dat dit broodnodig is om wild uit te dun en sodoende te sorg dat ‘n mens nuwe bloed op ‘n gebied kry en ook om basters te voorkom."
Volgens Mart-Marie kry sy baie positiewe terugvoering van haar meestal oorsese kliënte af. Hulle waardeer die feit dat sy baie moeite doen om hulle jagtogte aangenaam te maak. Sy vertel graag inheemse staaltjies aan haar kliënte en hou daarvan om hulle ‘n bietjie oor ons natuur en plaaslike fauna te leer terwyl sy saam met hulle in die veld is.
"Ek dink ‘n vrou is meer gesteld daarop om seker te maak dat haar kliënte iets terug vat uit hulle ervaring in die bos," sê Mart-Marie. "Ek hoef vir geen man terug te staan as dit by kennis kom oor die natuur of by skietvernuf nie."
Mart-Marie is tans werksaam as ‘n boekhouer by NOSA in die dorp, maar sy sê dat sy graag voltyds in die natuur wil werk. "Die jagbedryf is ongelukkig seisoengebonde," vertel sy. "Ek sal graag êrens wil werk waar ek my kundigheid en ondervinding voltyds kan gebruik."
Dié jong vrou het haar eerste rooibok in 1999 geskiet en sedertdien het sy die trofeës ingeryg: "My grootste dier wat ek geskiet het was ‘n buffel wat as ‘n gevaarlike dier spesie beskou word." Een van haar toekomsdrome is om eendag ‘n beer in Amerika te gaan skiet. Op die vraag of daar plek in haar besige lewe vir ‘n liefdesverhouding is, is haar unieke antwoord: "Ek droom van ‘n prins op die rug van ‘n swart-wit pens wat my voete onder my gaan uitslaan!"
0 Comments