<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Lephalale reik uit na behoeftiges

 
News : 03 Jul 2015 38 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Ons almal het die afgelope tyd die verswakte ekonomie se knyp gevoel, maar vir sommige gesinne is die stryd om oorlewing ‘n daaglikse realiteit.

Twee vroue in ons dorp het besluit om daadwerklik op te tree om behoeftige mense by te staan. "Ek het een oggend vir ‘n 7-jarige seuntjie gaan griepmedisyne aflewer en die blydskap op sy gesiggie het my net laat besef dat ek iets moet doen om die behoeftiges in ons gemeenskap te help," sê Mariaan Wiidd.

Mariaan wil graag besighede betrek by haar projek. "Ek het met 'n paar spyseniers gesels en hulle voorsien tans twee maaltye 'n dag aan twee uiters behoeftige gesinne wat uit 17 mense bestaan,' sê Mariaan.

Sy beoog om die mense wat sy help te betrek by haar projek. "Ek wil graag vir die gesinne hulle menswaardigheid terug gee en wil hê dat hulle moet help met die bewerking van vleis en groente wat dan weer aan ander families gegee kan word," sê Mariaan.

Mariaan het ‘n Facebook-webblad genaamd Lephalale Community Support gestig waar mense haar kan kontak as hulle weet van enigiemand wat in nood verkeer.

Berta Olivier is 'n ou bekende in Lephalale. Sy is al vir die afgelope vier jaar betrokke by Engele vir Nood en help sowat 35 gesinne. "Daar is 'n ongelooflike behoefte aan basiese voedsel en klere in ons dorp," sê Berta. "Dis so belangrik dat mense betrokke raak by ons organisasie omdat ek geheel en al afhanklik is van die publiek se ondersteuning."

Engele vir Nood is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie. Berta sê dat besighede moet onthou dat hulle geregtig is om enige skenkings van hulle belasting af te trek.

Mariaan beklemtoon dat sy en Berta nie teen mekaar werk nie. "Mense moet besef dat die probleem op die oomblik te groot is vir een mens om alleen aan te pak," sê Mariaan.

Noordelike Nuus was so geïnspireer deur die twee raakvat vrouens dat ons besluit het om ook betrokke te raak. Ons wil graag elke besigheid in die dorp uitdaag om 'n skenking aan een van die organisasies te maak. Noordelike Nuus is bereid om media dekking te gee om besigheide met ruim harte te bedank. Tweedehandse klere kan ook by Noordelike Nuus se kantore op die hoek van Dopperkiaat en Walter Sisulu afgegee word - ons sal dit aan Mariaan en Berta oorhandig.

Inwoners van Lephalale roem onsself daarop dat ons 'n dorp is wat saamstaan en nou is die tyd om daad by die woord te sit en te wys van watter stoffasie ons gemaak is.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube