-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Tienie van Staden is Maandag begrawe na ‘n lang en moedige stryd teen kanker. Tienie was die adjunkhoof van Hoërskool Ellisras en het ook wiskunde aangebied. Hy was ongeveer 29 jaar betrokke by EHS en was ‘n bekende boer met 'n liefde vir perde.
In Tienie se familie het nie net die manne perd gery nie, maar ook al die vroue en sy twee kleindogters. Dit was daarom gepas dat die familie vir hom met perde ‘n erewag gery het begraafplaas toe - die twee Arabiere voor in kort-gallop.
Hy gaan baie gemis word. Ons groet hom in die woorde van sy broers (Theunes, JP en Johan): "Ouboet, ons sal jou altyd onthou as ‘n steunpilaar en raadgewer in slegte en in goeie tye. Vir ons was jy altyd bereid om te help. ‘n Broer wat ons op sy hande gedra het. ‘n Rots wat vasgestaan het. Ouboet, dankie vir die inspirasie wat jy vir ons was. Dankie vir al die grappies en kwinkslae, antwoorde en staaltjies en natuurlik die perdekar ritte. Ons sal jou nooit vergeet nie".
Toe sy kleindogters, Nania en Hildegardt, hoor Oupa Tienie is na Jesus toe sê hulle: "Maar daar lê Oupa se bril nog, hy het vergeet om dit saam te vat." Die kleingoed was baie lief vir Oupa wat ‘n kabouter geken het en altyd lekkergoed in sy sak kon toor. Sy kas was vol "plaaseiers" en daar het lekker-goed muise in sy tuin gegroei.
"As iemand ons hartseer maak wou hy altyd hulle neuse tussen hulle oë sit. Ons oupa het ons leer boer in sy sandput. Hy het baie van kinder storieboeke gehou en graag Tom en Jerry saam met ons gekyk. Ons oupa het ons ook leer perdry en dat duiwe die boere roep om die koedoes te skiet."
Dit was opmerklik dat die graf met min moeite gou toegegooi is deur die baie van Staden manne en vriende. ‘n Kollega het hartseer opgemerk: "Ek het ook ‘n Ouboet verloor."
0 Comments