-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dit is hartseer om te verneem dat 'n toenemende aantal Suid-Afrikaanse kinders nie net diep ongelukkig is nie maar inderdaad met volwaardige depressie worstel. Volgens Samantha Marais, 'n kliniese sielkundige, voel haar jong pasiënte dat die lewe vir hulle te veel geword het en dat alles buite beheer is.
Faktore wat bydra tot depressie in kinders sluit in egskeiding, gesinskonflik, misdaad, afknouery by die skool, en portuurdruk.
Marais sê talle ouers meen dat depressie hul kinders nie kan of sal affekteer nie. “Dit is nie waar nie. Selfs in gelukkige stabiele gesinne kan die ander faktore wat ek genoem het, tot depressie lei.”
Sy sê daar is simptome waarop ouers bedag moet wees. “Die simptome van depressie in kinders wissel van kind tot kind. Sodanige depressie word dikwels nie gediagnoseer en behandel nie aangesien die simptome afgemaak word as normale emosionele en sielkundige veranderings wat plaasvind in kinders terwyl hulle grootword.”
Volgens Marais is die vernaamste simptome van depressie in kinders voortdurende gevoelens van verdriet en wanhopigheid asook skielike gemoedswisselings. Sy het 'n lysie gemaak van ander belangrike simptome maar daarop gewys dat een of meer daarvan nie noodwendig beteken dat jou kind depressief is nie. Dit sluit in:
Verandering in eetlus
Emosionele uitbarstings
Verandering in slaappatroon
Wil alleen wees; sosiale onttrekking
Praat van dood of selfdood
Marais sê kinders is geneig om beangs te wees alvorens depressie toeslaan. “Hulle kwel hulle oor dinge wat grootmense as onbelangrik beskou. Wanneer hul ouers byvoorbeeld bietjie weggaan vir 'n naweek kan sulke kinders bevrees raak dat hulle nie sal terugkom nie.”
Samantha waarsku ook dat kinder depressie ernstig en langdurig kan wees. Dit is dus raadsaam om jou kind so gou moontlik te laat behandel.
Dit is ook belangrik dat ouers nie net op die depressiewe kind se gedrag fokus nie maar ook die moontlike redes vir die depressie moet oorweeg. Is daar byvoorbeeld konflik in die huis? Hoe gaan dit by die skool? Word jou kind dalk afgeknou? Is daar spanning met vriende? Miskien 'n romantiese verhouding wat skeefgeloop het?
Marais voel sterk daaroor dat jy met jou kind oor sy/haar gevoelens moet praat as jy depressie vermoed. “Jy moet altyd so 'n vertrouensverhouding met jou kinders hê dat hulle die vrymoedigheid het om openhartig oor al hul vrese en kwellinge met jou te praat.” Neem jou kind na 'n dokter indien nodig en vra hom oor moontlike medikasie- en behandelingsopsies. Wees openhartig met jou kind as een of ander terapie voorgeskryf word en verduidelik dat om hulp te kry niks is om skaam oor te wees nie.”
Beskou enige verwysing na dood of selfmoord as 'n noodgeval.
Marais raai ouers aan om altyd hul kinders se gesondheid, welsyn, veiligheid en gemoedsrus te bevorder. “Die grondslag van voortreflike geestesgesondheid sluit in 'n gesonde dieet, genoeg slaap en oefening asook ;n aangename, positiewe atmosfeer in die huis.”
Bron: (Solidariteit tydskrif) http://welstand.solidariteit.co.za/kinders-met-depressie-n-tragiese-werklikheid/
0 Comments