<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Hoë verwagtinge van matriekafskeid

 
News : 16 Jul 2015 479 Viewed 0

Asof Graad 12 nie vir leerders uitdagende en veeleisend genoeg is nie, is die algemene verwagtinge rondom skole se matriekafskeid in vandag se samelewing uitermatig hoog. 
Hoewel dit vir skoolverlaters belangrik is om hulle skoolloopbaan op dié hoë noot af te sluit, meen kenners daar is baie druk op leerders om te beindruk.
“Matriekafskeid vandag is tien keer erger as trou,” sê ’n Mokopane inwoner wie se susterskind verlede jaar in Polokwane gematrikuleer het.
Die gemiddelde bedrag wat ouers van ’n Graad 12 dogter sal spandeer is so R10 000. 'n Rok kos so R5 000 en kan tot R25 000 en meer beloop.
Graad 12 seuns word nie uitgeskakel by onkoste nie. ’n Ordentlike pak klere, nuwe hemp, das, skoene en baadjie kan ‘n matriekseun se ouers R10 000 kos. Kostes sluit ’n huurmotor uit.
Noordelike Nuus het dié beraming gemaak na ons met ouerpare van verskeie hoërskole gesels het oor hulle matriekafskeid uitgawes.
”Waaroor die bohaai en waar trek mens die streep?” is die vraag op baie se lippe.
Die gevolgtrekking wat gemaak word wanneer mens met die Evageslag oor dié onderwerp praat is dat hulle oor die algemeen geoordeel word op grond van hulle voorkoms. Meisies berei dus lank voor vir hulle matriekafskeid, wat veral vir dié met ’n swak selfbeeld moeilik is. Hulle sal tot die uiterstes gaan om ’n goeie indruk te maak en om beter te lyk as ’n mede-leerder.
Alet van der Merwe van Lephalale stem saam dat die buitensporige bedrae wat sommige ouers vir een aand betaal nie geregverdig kan word nie. “Ek het vir my dogter ’n rok laat invoer uit Hong Kong wat my sowat R1 800 gekos het en ons is meer as tevrede met die kwaliteit daarvan.”
Volgens Alet weet sy van ouers wat tot R8 000 vir hulle dogters se rokke betaal het. “Ek voel dat ek eerder my geld op my kind se studies volgende jaar kan bestee,” sê sy.
Duisende rande word deur ouers bestee om kinders gelukkig te hou. Dit is baie sleg vir gesinne wat nie geldelik kan byhou nie.
“Dit is belaglik vir ’n middelklas ouer om soveel vir ’n matriekafskeid op te dok. Wie kan regtig byhou of kompeteer?,” sê ’n ouer wat verkies om nie haar naam te noem nie.
Larry Landman het verlede jaar twee-ling dogters in matriek gehad en sê hy moes behoorlik sy sak skud om vir alles te betaal. “Ek voel dat dit ’n mylpaal in my kinders se lewens was en daarom was ek bereid om die ekstra uitgawes aan te gaan,” sê Larry. Hy voeg by dat hy sy dogters se rokke in Vanderbijlpark gekoop het vir omtrent R4 500 elk. “My kinders het hierdie jaar besluit om hulle rokke aan minderbevoorregte kinders te skenk,” sê Larry trots.
Een ouer voel dat meer skoolverlaters Larry se dogters se voorbeeld moet volg. “Dit gaan finansieël baie sleg met ons in hierdie stadium en al wil ek hoe graag vir my kind ook ’n spog uitrusting koop kan ek dit net nie bekostig nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube