<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Moles met restitusie plaas

 
News : 16 Jul 2015 217 Viewed 0

LEPHALALE – ‘n Grondeis het lelik skeefgeloop nadat verskeie plakkers glo besluit het om hulle op staatsgrond tuis te maak.
Volgens Douw Pelser, voorsitter van die Landelike Veiligheid organisasie in Lephalale, het plaaseienaars, Dawie Coetzee en Pieter Lindique, hulle plase vrywillig aan die staat verkoop nadat ‘n grondeis ingestel is. “Die grond is toe aan Manakea Letsebe en sy sewe kinders oorhandig,” het Pelser gesê.
Daar het egter ‘n problem ontstaan toe Johannes Letsebe wat voorheen in Marikana woonagtig was en David Letsebe van Vaalwater ook besluit het om op die grond te kom woon.
“Alhoewel al die mense dieselfde van het is hulle nie aan mekaar verwant nie,” het Pelser gesê.
Die grondeis dateer terug na die vroeë 1900s. Volgens Pelser is die grond oorspronklik in 1886 opgemeet en aan die staat oorhandig nadat die eienaar oorlede is. ‘n Ene Swanepoel het die grond vanaf 1910 tot 1935 gehuur en het ‘n werker op die plaas gehad wat ‘n bees besit het. Die werker is ‘n voorsaat van Manakea Letsebe aan wie die grond onlangs oorhandig is.
“Op hierdie stadium is daar omtrent 63 families op die plaas en die eienaar het regsadvies gekry om van die plakkers ontslae te raak,” het Pelser gesê.
Volgens die plaaslike balju, Tseke Mphahlele, het hulle verlede week
Donderdag instruksie van die eienaar se regsverteenwoordigers gekry om die mense te verwyder.
Jan Venter, Manakea Letsebe se regsverteenwoordiger, sê dat die grond aan die Morongwa Trust oorhandig is. "Volgens hofdokumente is Manakea die hoofman van die trust en moet die ander bewoners die grond verlaat," sê Venter.
Venter beweer dat hy al vanaf 2012 sukkel om die balju so ver te kry om die onregmatige bewoners van die grond te verwyder. "Die eerste relaas wat aan die balju oorhandig is is reeds in Julie 2012 uitgereik," sê Venter.
Intussen voer Johannes Letsebe aan dat die grond as 'n gemeenskaplike eiendoms assosiasie bestuur word en dat hy in 2009 by die voormalige voorsitter, Hendrik Ndebele, oorgeneem het. "Volgens regulasies mag elke voorsitter vir vyf jaar in sy amp optree en daarna moet daar weer gestem word vir 'n nuwe voorsitter," sê Johannes.
Hy beweer dat hy verskeie male probeer het om al die rolspelers van die assosiasie bymekaar te kry sodat hulle ‘n nuwe voorsitter kan kies, maar dat Manakea Letsebe se familielede nooit beskikbaar was nie.
“Ek het saam met my broer en ander lede van die komitee begin boer en ten spyte van 'n klomp terugslae het ons begin om 'n sukses van die boerdery te maak," sê Johannes.
Johannes woon tans op die plaas Sterkfontein wat omtrent 877 hektaar groot is. Die plaas is aangrensend tot Nooitverwacht wat omtrent 847 hektaar groot is. Volgens Johannes word albei plase in hierdie stadium gebruik om met beeste te boer, tamaties en beet te plant en hulle het ook ‘n lemoenboord aangeplant.
"Toe ek in 2009 hier aangekom het was albei plase verwaarloos en daar was geen teken van boerdery nie. Ek het met Exxaro, Eskom en die Departement van Landbou kontak gemaak wat vir my borgskappe vir toerusting en ook opleiding gegee het," sê Johannes.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube