-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Nóg ’n skoonheidstitel is voorverlede Saterdag deur die jong Wilita Leë (8) van Mokopane opgeraap nadat sy teen meer as 70 ander deelnemers by die Meropa Casino & Entertainment World meegeding en as 2015 se “Miss Observer Cover Girl” gekroon is.
“Skok, vreugde en weer skok.” Só het Elita Jansen van Vuuren, Wilita se ma, haar en haar dogter se reaksie op Facebook beskryf nadat die beoordelaars haar “pop” as die algehele wenner in die finale skoonheidskompetisie aangekondig het. Elita sê hulle het verwag dat Wilita haar kategorie sou wen en was aangenaam verras toe sy die groot titel onder alle deelnemers tussen een tot 24-jaar as algehele wenner opraap.
Dié jong skoonheid is ’n Graad 2 leerder aan Mokopane Primary School. “Ek hou van mooi rokke en is gek daaroor om te wys hoe mooi ’n dogtertjie regtig kan lyk,” sê dié klein model.
Wilita het op vyf-jarige ouderdom (2012) haar heel eerste skoonheidskompetisie gewen. Daarna, sê haar ma, het haar dogter se harde werk as model by Limpopo Beauty Modelling Academy van Katryn Barwise as Miss Humanity International vir die res gesorg. Wilita spog na dese reeds met 12 titels agter haar naam onder meer Queen of the North junior 2014, Polokwane Show Queen 2014 en Mej. Kierieklapper junior 2014. Laasgenoemde titel het sy vir twee jaar in ’n ry gewen en vanjaar se titel as mej. DBV Junior behoort ook aan haar.
“Behalwe dat ek baie graag mej. Limpopo wil wees wanneer ek groot is, is my groot droom om eendag die regte koningin en prinsesse in Engeland te ontmoet,” sê Wilita vasberade.
Wilita sê sy sien baie uit na die Miss Summer Glitz kompetisie wat vroeg in Oktober vir haar wink asook die Porsche Missy SA waaraan sy einde Oktober graag wil deelneem.
Regs: Mokopane se eie Wilita Leë (8) kort na haar kroning as “Miss Observer Cover Girl 2015”.
0 Comments