-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) bied aan persone wat deur gesinsgeweld geraak word ’n veilige hawe, maar hulle benodig verdere hulp van die gemeenskap.
“Ons het twee huise, met twee slaapkamers elk, wat permanent vol is,” sê Alida Laurenson, ‘n maatskaplike werkster. Alhoewel hulle baie navrae kry kan hulle nie al die aansoeke goedkeur nie.“Ons werk hoofsaaklik met dwelmverslawing, molestering en egskeidings, maar op hierdie stadium het ons te min personeel om die groeiende aanvraag aan maatskaplike dienste te kan hanteer.”
Volgens Alida bied die huise net ‘n tydelike uitkoms aan gesinne. “Ons huisves net vrouens en kinders vir drie maande waartydens ons hulle bystaan om werk te kry en selfonderhoudend te word.”
Alida sê alhoewel hulle sukses stories het het hulle ook gevalle waar die gesinne sommer net in die middel van die nag besluit om te trek. “Gewoonlik vat hulle dan sommer ook die beddegoed en gordyne wat in die huise was,” sê sy.
Mariaan Pretorius van die Solidariteit tak in Lephalale sê hulle het agtergekom die huise kan doen met ‘n bietjie opknappingswerk. “Dis vir my hartverskeurend om te dink dat iemand wat alreeds uit haglike omstandighede kom in ‘n verwaarloosde huisie moet gaan woon en ek het daarom besluit om ‘n fondsinsamelingsprojek te begin.”
Volgens Mariaan het hulle reeds baie gewillige skenkers gekry wat bereid is om by te dra tot haar projek. “Buco was fantasties en het al die verf wat benodig sal word geskenk terwyl Get Stuff Done (GSD) sal sorg dat instandhouding by die huis voortdurend plaasvind.”
“Srixzone gym, Alila Cosmetics, Engele vir Nood, Gezé haarsalon en Mariaan Wiid het ook ingespring en gaan ons bystaan om teddiebere en speelgoed bymekaar te maak,” sê Mariaan.
Alida sê hulle is dankbaar vir Solidariteit se hulp, maar hulle het ook ‘n behoefte aan vrywilligers wat hulle kan bystaan om hulle werk so ‘n bietjie ligter te maak. “Ons het veral ‘n groot behoefte aan pleegouers en ouers wat bereid is om kinders op kort kennisgewing vir kort tydperke te huisves.”
Enigiemand wat belangstel om betrokke te raak by enige projekte van die SAVF en Solidariteit kan vir Alida Laurenson kontak by 014 7632990/2 of Mariaan Pretorius by 014 7631174
0 Comments