<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Lig in die werkloosheidstonnel

 
News : 11 Aug 2015 164 Viewed By NoordNuus reporter 0

MOKOPANE - Met 'n leeftyd van 100 jaar en 'n verbintenis tot plaaslike indiensneming en aankope beloof Ivanhoe se Platreef projek by Mokopane om werk en welvaart vir dié gemeenskap se inwoners te skep in 'n tyd wat duisende mynwerkers in Suid-Afrika werkloosheid in die gesig staar.
Die myn wat oor vier fases gebou gaan word beoog om 12-miljoen ton erts waaronder palladium, rhodium, goud met platina as hoofmineraal per jaar te myn.
Eers wanneer 'n massa steekproef afgehandel is en die myn se volle potensiaal bepaal is sal daar na ander beleggers gesoek kan word om die finale twee fases te ontwikkel. Ivanhoe het egter reeds R12-miljoen vir die ontwikkeling van vaardighede in die Mokopane gemeenskap bewillig, het Sipho Manyeke van Platreef se Menslike Hulpbronne afdeling aan die dorp se sakelui gesê.
Manyeke was deel van 'n afvaardiging van Platreef wat die Mokopane Besigheidskamer oor die myn se bedrywighede en toekomsplanne toegespreek het.
Hy het gesê gemeenskapslede gaan op alle vlakke van die samelewing gewerf word en daar sal verskillende opleidingsinisiatiewe wees om vaardigheidstekorte aan te spreek. "Ons sal in Augustus reeds adverteer dat Graad 12 leerders wat belangstel moet aansoek doen vir studiebeurse," het hy gesê. Hoewel die myn se ooreenkoms met die staat in terme van sy mynlisensie 30 beurse vereis, gaan Platreef 60 studiebeurse vir 2016 beskikbaar stel.
Daar werk reeds meer as 600 mense op die Platreef perseel net buite Mokopane waarvan Manyeke sê meer as 72% plaaslik is. "Waar ons vaardighede nodig het, ontwikkel ons dit onder die plaaslike mense."
Platreef het reeds 'n vaardighede databasis waarop lede van die gemeenskap hul name kon registreer en daar word slegs poste geadverteer as daar nie kandidate met die nodige kwalifikasies en vaardighede op die lys beskikbaar is nie.
Retha Estes wat onder andere die my se skakeling met plaaslike besighede behartig sê al die myn se kontrakteurs moet aan dieselfde streng voorskrifte as die myn voldoen as dit by indiensneming en aankope van materiaal en toerusting kom.
"Ongeag wat ons nodig het probeer ons altyd eers om 'n plaaslike verskaffer te kry," sê sy. "Dis beleid."
Sy waarsku egter dat Platreef nie bereid gaan wees om onrealistiese pryse vir goedere te betaal net omdat dit deur plaaslike besighede verskaf word nie. "Dit moet markverwant wees en op die skaal en kwaliteit verskaf word wat ons vereis."
Sy het ook gesê daar sal streng Swart Ekonomiese Bemagtigingsdoelwitte geld en maatskappye word aangemoedig om vennootskappe aan te gaan wat hierdie doelwitte bereik.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube