-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - “Die gevoel wat mens kry wanneer jy op jou lewelose hond afkom en besef hy is vergiftig, is onbeskryflik.” Só het Alta Pitzer, ‘n inwoner van Taylorstraat, gesê toe sy Maandag by die huis kom en besef haar ses maande oue Rottweiler is vergiftig.
Pitzer is een van verskeie inwoners in die omgewing van Taylor- en Meintjiesstraat wie se honde oor die afgelope langnaweek dood in hulle erwe aangetref is.
Een van die inwoners wat verkies om anoniem te bly se twee honde het ook gif ingekry. Die een hond is gelukkig deurgehaal nadat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) advies gegee het. Die tweede hond het egter gevrek. Ella Verwey treur oor haar Great Dane wat tekens getoon het van vergiftiging. Hy is verlede week langs sy waterbak dood aangetref is. Sy woon ook in Meintjies Straat.
Die polisie skryf dié tendens toe aan georganiseerde misdaad. Misdadigers teiken waghonde of honde wat geneig is om ’n groot geraas op te skop. Inbrekers kan tot weke daarna toeslaan en is goed daarvan bewus dat ’n eienaar nie gou weer sy hond met ’n ander een gaan vervang nie.
Navorsing toon dat die mees algemene gif wat gebruik word om diere mee te vergiftig is Aldicarb of beter bekend as Two Step. Aldicarb is die hoofbestandeel wat in insekdoders gebruik word en word oor Mosambiek en Zimbabwe se grense gesmokkel, sê Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon Poison Information Centre in SA.
Die enigste manier om te voorkom dat diere vergiftig word, raai ’n veearts aan, is om hulle te leer om kos slegs van die eienaar of die gesin te aanvaar.
“Een dooie hond is een te veel. Dit is so onnodig. Ons diere is soos ons eie kinders en dit is sonder twyfel ‘n groot verlies vir elke eienaar wat sy of haar dier moet afstaan aan iets so wreed,” het Marcelle Maritz, die bestuurder van die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV) aan Noordelike Nuus gesê.
Wanneer mens vermoed jou dier het gif ingekry, moet daar onmiddellik opgetree word, sê die DBV. Tyd is van kardinale belang en die dier moet dadelik na ’n veearts geneem word vir die nodige mediese behandeling. Dit is ook baie belangrik om die voorval by die polisie of DBV te rapporteer. “Vergiftiging van veral honde, is in meeste gevalle volgens die polisie, ’n voorloper van ’n inbraak en bewusmaking kan in ’n groot mate ’n rol speel om misdaad te bekamp.
Konstabel Irene Masingi, woordvoerder van die Mokopane polisie, het onderneem om die naweek se voorvalle met die Mokopane stasiebevelvoerder op te neem.
0 Comments