-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – ‘n Twintig-jarige man is gearresteer vir huisroof nadat hy glo Saterdag by ‘n woning op ‘n kleinhoewe in die Witkop area probeer inbreek het.
Volgens adjudant offisier Frans Mokoena van die Lephalale polisie het die man na bewering ‘n inwoner van die huis met ‘n mes gedreig en sodoende toegang tot die huis gekry. “Daar het ‘n struweling tussen die eienaar van die woning en die verdagte ontstaan en albei is beseer,” sê Mokoena.
Die verdagte is gearresteer en in die plaaslike hospitaal opgeneem om behandeling vir sy beserings, wat ondermeer bytplekke ingesluit het, te ontvang.
Intussen beweer die slagoffer, wat versoek het dat sy naam nie genoem word nie, dat die polisie aanvanklik geweier het om die verdagte te arresteer. “Ons moes eers dreig om die media in kennis te stel voordat hulle bereid was om hulle werk te doen.”
Hy beweer dat die konstabels gesê dat hulle nie ‘n persoon met beserings kan arresteer nie, want hulle mag hom nie so by die polisiestasie aanhou nie.
Adjudant offisier Mokoena het gesê dat hy nie
kennis dra van die aantygings nie en dat die verdagte wel gearresteer is waarna hy by die hospitaal onder polisie bewaring aangehou is.
Die verdagte het Woensdagoggend in die Lephalale hof voorgekom.
0 Comments