-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Hoë-profiel sprekers wat lede van die Nyl Aksiegroep verlede Donderdag in Mokopane kom toespreek het oor die gevare wat mynbou vir die omgewing en die landbou-ekonomie inhou. Van links is Dr. Kevin Gast ‘n kenner op waterbesoedeling en hidrobreking, Carina Steenkamp – Nyl Aksiegroepvoorsitter, Bennie van Zyl van TLU-SA en Philé van Zyl van ZZ2.
MOKOPANE - Bennie van Zyl, die TLU-SA se hoofbestuurder het lede van die Nyl Aksiegroep gewaarsku dat die ANC regering wil toesien dat SA ‘n nasie van industrialiste word. “Hulle erken nie die geweldige strategiese bate wat voedselproduksie vir ‘n land inhou nie. ‘n Mens kan nie steenkool eet nie,” het hy verlede Donderdag by ‘n belangegroep vergadering in Mokopane gesê.
Dr. Kevin Gast, ‘n kenner op die gebied van waterbesoedeling en ‘n kampvegter teen hidrobreking, het sy stem by Bennie s’n gevoeg en Karina Steenkamp en die Nyl Aksiegroep se stigterslede geloof vir die inisiatief wat hulle geneem het.
Hy sê dit is mense hierdie wat nou die stryd teen myne moet voer om SA teen die langtermyn gevolge van mynwese te beskerm. “Hoe vinniger ‘n land se water besoedel en onbruikbaar raak, hoe vinniger krimp daardie land se ekonomie. Ons sien al hoe meer ‘n direkte verband tussen water en Bruto Binnelandse Produk,” sê hy.
Die maatskappy, Sylvania Platinum, beplan om ‘n platinamyn in die Nyl vloedvlakte naby Mokopane op te rig en die Nyl Aksiegroep staan dit tee.
Gast sê mense moet ophou dink mynwese is die oplossing vir swak ekonomiese groei. “Mynwese is die probleem, nie die oplossing nie.” Hy sê indiensnemingsgrafieke van enige mynbedryf die afgelope 40-50 jaar lyk soos ‘n ongebalanseerde wipplankrit. Dit is op en af sonder enige voorspelbaarheid. “Mynbou is deurspek met sosiaal-maatskaplike probleme en boonop besoedel dit ons water en omgewing.”
Daarteenoor is landbou ‘n stabiele wergewer in lande met gunstige landboubeleid. Gast sê as dieselfde geld in landbou en toerisme belê word wat in mynwese belê word sal dit meer werkgeleentehde en beter volhoubare obrengste lewer.
Philé van Zyl van ZZ2 stem saam. Dié megaboerdery is saam met ander boere in ‘n hofstryd gewikkel met die mynmaatskappy, Coal of Africa (CoAL), ‘n Australiese myngroep wat vir ses lisensies vir steenkoolmyne in die Vhembe-omgewing aansoek gedoen het.
In dié omgewing wat tussen die Soutpansberg en die Limpoporivier lê en van Alldays in die weste tot by Pafuri langs die Krugerwildtuin in die ooste strek word daar 24 000 ha onder besproeiing bewerk. “Ons kan dit uitbrei na 54 000 ha en deur intensiewe bewerking kan ons ons omset van die huidige R8,9 miljard per jaar verhoog na R56 miljard. Dis meer as wat Anglo Platinum verdien.”
Boonop sê Van Zyl landbou in Vhembe verskaf tans werk aan 27 000 mense, maar daar kan nog 33 700 poste geskep word as daar eerder in dié streek se landbou as mynbou belê word.
0 Comments