<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Tradisionele toorkuns vir inbreker

 
News : 20 Aug 2015 1025 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Twee jong mans was Vrydagoggend die teiken van ‘n selfversekerde inbreker met ‘n sak vol tradisionele moetie (muthi).
Nico Pienaar en Billy Clarke, wat in Sandsteenstraat in Onverwacht woon, sê hulle het sowat 00:30 Vrydagoggend gaan slaap.
“Ek het 01:39 ‘n boodskap op my selfoon ontvang en het opgestaan om iets in die kombuis te gaan haal,” sê Clarke.
Hy het opgemerk dat Pienaar se kamerdeur, wat vroeër toe was, oop staan. “Die inbreker moes in daardie stadium nog in die huis gewees het.”
Toe die twee huismaats later die oggend wakker word het hulle gevind dat Pienaar se skootrekenaar skoonveld is en dat die kombuisdeur oopstaan. “Dit maak my woedend om te dink dat die skurk binne in my kamer was terwyl ek geslaap het,” sê Pienaar.
Pienaar het die Lephalale polisiestasie om 08:30 gebel om die huisbraak aan te meld. “Hulle het eers sowat 10:00 opgedaag. Moet ek hieruit aflei dat hulle net so traag sou wees as dit ‘n moord was?”
Intussen het Niekie de Beer, die GPF se hondehanteerder, opgedaag en begin spoorsny met sy getroue Duitse herdershond, Carla. “Die spoor was reeds oud en ons het dit verloor by ‘n besige voetpaadjie,” sê De Beer.
Carla het wel daarin geslaag om ‘n blou plastieksak uit te snuffel wat vermoedelik die inbreker se moetie ingehad het – stokkies wat met tou vasgedraai is.
Volgens De Beer sien hulle gereeld dieselfde tipe stokkies wat met tou vasgedraai is wanneer hulle huisbraak tonele bywoon. “Daar word beweer dat die inbrekers die doepa brand om te keer dat hulle gesien word wanneer hulle by plekke inbreek.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube