-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – ‘n Helder toekoms wag op klein Jessica Botha (8) wat Vrydag haar nuwe gehoorstuk kry nadat sy lank gesukkel het met gehoorverlies. Die Lephalale gemeenskap het weereens gewys hoe ruim hulle harte is en die gesin te hulp gesnel.
"Jessica is vreeslik opgewonde oor haar nuwe gehoorapparaat en het self die pienk toestel gekies," sê haar ma, Geney Botha.
In 2011 is Jessica in die provinsiale hospitaal in Lephalale opgeneem waar sy penisillien ontvang het vir ‘n infeksie. Sy was egter allergies daarvoor en haar gesondheid het oornag vererger tot so ‘n mate dat haar niertjies in die proses aangetas is. "In daardie stadium was ons nog nie bewus daarvan dat Jessica se gehoor ook aangetas is nie," sê Geney.
Jessica se ouma, Charmaine Oosthuizen, het opgelet dat sy nie reageer as mens met haar praat wanneer sy naby jou staan nie. “Ons was onder die indruk dat dit dalk die medikasie kon wees.”
Jessica, wat toe in Sterretjies Dagsorg was, se juffrou het laat weet dat dit lyk asof sy sukkel om te hoor. Hulle is toe na hulle gesinsdokter wat bevind het dat Jessica mangelontsteking het. “Hy het vir ons gesê dat dit moontlik is dat haar gehoor ingeperk kon word weens die ontsteking,” sê Geney.
In 2014 het Jessica by Laerskool Bosveld Primary in Elsabe Powell se Graad 1 klassie begin. “Powell het ons laat weet dat Jessica sukkel in die klas en ons het besluit om haar by 'n kenner in die dorp te laat evalueer.”
Daar is bevind dat Jessica nie skool-gereed is nie en Geney en haar man, Bobby Schmidt, het besluit om haar terug te plaas Graad R toe. “Dit het begin lyk asof dit beter gaan totdat ons weer ‘n briefie gekry het dat Jessica nie luister in die klas nie.”
“Na verskeie besoeke aan dokters en spesialiste het ons ‘n kinderarts van Pretoria genader wat gevind het dat Jessica aandag afleibaar is en is sy op medikasie geplaas.”
Jessica se stiefpa was glad nie tevrede met die dokter se terugvoer nie en het self begin navorsing doen. Hulle het ‘n oog-,oor- en keel spesialis in Pretoria gevind wat gesê het dat haar mangels en adenoids (neus mangels) verwyder moes word. Hierdie prosedure het die gesin so R11 000 gekos.
Bobby het toe agtergekom dat Jessica nie kan hoor as mens nie direk vir haar kyk nie. “Weereens het skool laat weet dat Jessica nie mooi hoor nie en net haar eie opdragte doen," sê Geney. “Teen dié tyd was ons al baie moedeloos en het kontak gemaak met Loandra Blanche van Mariet du Plooy Oudioloë wat uiteindelik vir ons kon sê het dat Jessica ‘n gehoorprobleem het.”
“Sy het vir ons ingelig dat ons so gou as moontlik vir Jessica ‘n gehoorstuk moet kry om te keer dat haar gehoor verder verswak.”
Die gehoorstuk kos R20 000 en daar is dadelik begin met ‘n fondsinsamelings projek. Bertha Verster van Engele vir Nood, Petro van der Walt van Bravo Jeug en KR Technologies het almal ingespring en gehelp om die geldjies bymekaar te maak. “Ons is dankbaar vir elke engel in ons drop wat gehelp het, veral Elsabe Powell van Laerskool Bosveld Primary wat so geduldig en behulpsaam was.”
“Jessica kan nou 'n normale lewe hê en het ook begin modelwerk doen! Sy het onlangs aan die Mej Thabazimbi kompetisie deelgeneem en het tweede plek verower in haar ouderdomsgroep!"
0 Comments