-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Nog drie honde in Van Heerden straat is dood en verskeie ander siek nadat hulle vermoedelik gif ingekry het. Noordelike Nuus het op 14 Augustus verslag gedoen (“Buurt se honde vergiftig”) oor verskeie honde in onder meer Van Heerden-, Taylor- en Meintjies straat wat vermoedelik vergiftig is.
Volgens die plaaslike veeartse en die dierebeskermingsvereniging is daar geen gevalle aangemeld nie. Dit kan wees omdat die honde reeds dood is of omdat dit bloot katgriep is. Die Mokopane polisie het ook geen inligting dat dat enige formele klagtes gelê is nie.
Daar is wel enkele gevalle van katgriep aangemeld. Die simptome vir katgriep sluit in geen eetlus, lusteloosheid, gereelde bra-king en ernstige diarree, ontlasting met ‘n onaangename reuk en wat dalk bloederig kan wees, asook aangetaste asemhaling (bron: http://www.republikein.com.na). Indien u vermoed dat u hond dalk katgriep het, is dit belangrik om maar sodra moontlik by ’n veearts uit te kom. Jong hondjies moet vanaf die ouderdom van ses weke teen katgriep ingeënt word en dan weer op 10 weke en 14 weke. Daarna kan honde ook opsioneel jaarliks geneem word vir inenting.
Honde eienaars wat vermoed dat honde vergiftig is, kan hul diere se karkasse na die Veterinêre Laboratorium in Eerste Straat (uit op die Zebediela-pad) neem vir ‘n nadoodse ondersoek. Daar is geen kostes om toetse te doen vir toksikologie nie - dus sal hulle kan bevestig of daar gif betrokke is.
Een van verskeie inwoners wie se jong Rottweiler hond in dieselfde woonbuurt gevrek het, het besluit om haar hartseer in iets positiefs te omskep nadat sy aan ‘n hawelose hond ‘n nuwe tuiste kon gee. Alta Pitzer het ná ‘n besoek aan die DBV ‘n nuwe waghond aangeneem. “Buster”, ‘n Boerboel reun wat deur sy nuwe eienaars herdoop is na Oubaas, sou volgens die DBV binnekort uitgesit moes word. “Oubaas is net so gelukkig soos ons,” het Pitzer verlig gesê.
Marcelle Maritz, bestuurder van die Percy Fyfe DBV het gesê sy is ook verlig omdat ‘n dier nog ‘n kans gekry het. Sy doen ‘n beroep op die gemeenskap om ook barmhartig te wees en om vir die baie ander diere by die vereniging ook ‘n regverdige kans te gee deur te oorweeg om hulle aan te neem.
0 Comments