<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Waar moet ons kinders speel?

 
News : 03 Sep 2015 346 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Met lente in die lug wil ons almal ‘n bietjie meer tyd buite spandeer, maar die toestand van ons parkies is van so ‘n aard dat kinders nie meer daar kan speel nie.
“My dogtertjie het aanhoudend geneul dat sy saam met haar maatjies by die parkie in Skilferdoringstraat wil gaan speel en ek het maar teësinnig ingestem,” sê Sandra Steenekamp.
Sandra se huiwering om haar dogtertjie se versoek toe te staan was nie verniet nie, want dit was skaars ‘n uur later toe die kind met ‘n bloeiende voet by die huis aankom. “Nicky het glo op ‘n gebreekte stuk glas ge-trap en ons moes inderhaas na die dokter toe gaan om steke te kry.”
Die parkie in Skilferdoringstraat is nie die enigste speelarea wat heeltemal ontoeganklik vir kinders is nie. In Peerboomstraat staan die klimraam al windskeef en is die grond besaai met gemors en stukkende glas bottels.
Sybil Nieuwoudt, die DA raadslid wat in Onverwacht woon, sê dat sy baie klagtes van inwoners gekry het oor die parkies. “Ek is tans besig om voorstelle in te samel vir die munisipale begroting vir volgende jaar en die opgradering en instandhouding van parkies is beslis een van die kwessies wat ek graag sal wil voorlê.”
‘n Verwaarloosde parkie is nie net ‘n oogseer nie, maar het ook ‘n invloed op potensiële huiskopers in ‘n area. “Huispryse word nie noodwendig negatief beïnvloed deur die parkies nie, maar daar is beslis verminderde belangstelling in areas wat sleg lyk,” sê Lindie Groenewald, Remax se bestuurder in Lephalale.
Volgens Lindie wou haar span by Remax vroeër hierdie jaar die parkie in Peerboomstraat opknap, maar die munisipaliteit het geweier. “Dit is vir ons belangrik om ons dorp op te kikker en so ‘n bietjie aandag aan ons parkies te gee en ons was baie teleur-gesteld toe ons versoek afgekeur is.”
Teen druktyd het die munisipaliteit nie op vrae gereageer nie.

 

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube