-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - Marcelle Maritz wat by die gemeenskap bekend is as wykraadslid vir die Demokratiese Alliansie (DA) het Dinsdag middag aangekondig dat sy nou die Vryheids Front Plus verteenwoordig.
Sy is onlangs deur die DA ondersoek nadat 'n klagte ontvang is en sy daarvan beskuldig is dat sy, volgens gerugte in die media, die gewraakte k-woord gebruik het. Die ondersoek is nooit voltooi nie en Maritz ontken dat sy ooit die woord gebruik het.
“Die tyd het aangebreek om die opwindende nuus met Mokopane te deel. ‘n Nuwe era het in my lewe as publieke verteenwoordiger aangebreek,” sê Maritz opgewonde.
Maritz sê sy het na diep bepeinsing besluit om by die VF Plus aan te sluit.
Sy ag haarself as ‘n toegewyde raadslid en meen haar siening oor die DA het verander. “Ongelukkig het die nuwe rigting wat die DA ingeslaan het om die swart stem hulle prioriteit te maak, veroorsaak dat ek nie meer aandag aan die kiesers in my kiesafdeling kon gee nie,” sê sy.
“Die DA staan dus nie soos ek geglo het vir hulle tradisionele kiesers nie. Die DA beskerm nie ons taal nie en daar word ook geen ernstige poging aangewend om die afbreek van ons geskiedkundige monument te verdedig nie.”
Sy sê sy is van plan om haar goeie verhoudings wat sy oor die jare met die Mogalakwena Munisipaliteit opgebou het te behou.
Sy het ook onderneem om verder die gemeenskap by te staan met munisipale klagtes en probleme.
Die DA het intussen Maritz se bedanking as raadslid van die Mogalakwena Munisipaliteit aanvaar en in ‘n media verklaring Woensdag aangekondig dat DA raadslid Korny Dekker tans waarneem totdat die beskikbare pos gevul word.
"Met duisende nuwe lede wat by die DA aansluit,staan ons nie in die pad van 'n
enkele raadslid wat die (interne) reëls van DA oortree het en wat die DA wil verlaat nie," het die DA se provinsiale leier Jacques Smalle in die media verklaring gesê.
0 Comments