-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MODIMOLLE – Ian Chuqe het Woensdag skuldig gepleit op die verkragting en roof van Mariaan Wentzel (40) op 23 Maart. Hy het 10 jaar gevangenisstraf vir die verkragting gekry en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.
Mariaan, bestuurder van die Lephalale DBV, was op die betrokke dag saam met haar drie kinders besig om in ‘n huis op ‘n plaas naby Vaalwater in te trek. Haar man het gery om die volgende vrag meubels in die dorp te gaan haal.
Chuqe het haar omstreeks 16:00 in die huis oorval en wreedaardig aangerand en verkrag. Hy het op die vlug geslaan met selfone.
“Vyf jaar van die roof vonnis sal saam met sy verkragting vonnis uitgedien word en hy sal daarom effektief 20 jaar tronkstraf uitdien,” sê adjudant offisier Girty van der Merwe, die ondersoekbeampte van die saak.
Van der Merwe het ook gesê dat Wentzel ‘n inspirasie was en is dit te danke aan haar dat hulle die saak so vinnig kon afhandel.
“Ek is ongelooflik bly dat ek nou hierdie deel van my lewe kan afsluit,” het Wentzel Woensdagmiddag gesê.
Wentzel wil graag die gemeenskap bedank vir hulle bystand tydens die saak en sê ook dat die ondersoekbeampte geprys kan word vir die harde werk en toewyding wat sy vir die saak gegee het.
0 Comments