-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Rattle Cage, die gewilde kuierplek langs die Nylpark Inkopiesentrum in Geyserstraat, is Saterdagaand deur ‘n brand in puin gelê. Brandstigting word sterk vermoed as die oorsaak van die brand, sê Martin Maritz, eienaar van die kroeg en eetplek wat al ses jaar bestaan.
“My ergste kommer is dat agt van my werknemers na dese werkloos gelaat is,” sê Maritz.
Hy sê die meeste van sy werknemers was hulle gesinne se enigste broodwinners. Die besigheid was ook Maritz se enigste bron van inkomste en hy is tans onseker oor wat die toekoms vir hom inhou.
Hy sê die brand het aan die Westekant van die kroeg by die grasdak ontstaan en dit is moontlik dat iemand die dak daar aan die brand gesteek het. Sy kroegman het oorspronklik gedink die rook wat hy teen ongeveer 22:00 gesien het kom van die kombuis af maar by nadere ondersoek het hy met 'n skok agtergekom die dak is aan die brand.
Kliënte wat in die kroeg gekuier het, het teen die vlamme help veg. Een van hulle het brandwonde aan sy been opgedoen en ‘n ander het sy voet erg beseer toe hy op ‘n gebreekte bottelstuk te lande kom nadat vlamme hom van die dak afgedwing het.
Die brandweer was spoedig op die toneel maar die vlamme was haastig en het alles verwoes, vertel Maritz.
Polisie forensiese ondersoekers sal na verwagting die toneel fynkam om die oorsaak van die brand te bepaal.
0 Comments