-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Die vyfde jaarlikse Cancervive bewusmakingsrit is onderweg met die hoofdoel om gemeenskappe aan die praat te kry oor kanker. Sowat 65 kankeroorwinnaars en ondersteuners het vroeër die week uit Gauteng vertrek vir ‘n 2300km roete wat in dorpe aandoen om inwoners te leer hoe om kanker vroeg te diagnoseer, en waar om toepaslike behandeling te kry.
Die projek maak gebruik van uitvoerende kunste, musiek, poësie, dans en storievertelling om die boodskap oor te dra. "Daar is te veel mense in ons land wat min of niks van kanker weet nie, maar om self die oorwinnaars se persoonlike ervaringe eerstehands te ervaar bring baie insig oor die siekte tuis," lui die Cancervive persverklaring.
“Dr. Kulsum Jhetam, ’n radioloog in Mokopane, het seker gemaak dat die groep ook in ons dorp kom draai,” het Estelle Hartzenberg, bestuurder van die Dienssentrum vir Bejaardes, gesê. “Die Dienssentrum het as gasheer opgetree vir hierdie belangrike groep mense.”
Janie du Plessis (HUB van People Living With Cancer en voormalige TV-persoonlikheid) het haar verhaal gedeel. “Ons probeer die boodskap tuisbring dat jy nie alleen is as jy skielik met kanker moet saamleef nie. Baie soorte kanker het ‘n uiters hoë oorlewingspersentasie indien dit vroeg genoeg gediagnoseer word,” het Janie, wat self kanker oorwin het, gesê.
Vir inligting of om ’n donasie te maak besoek www.cancervive.co.za of gebruik die gratis kanker ondersteuningsnetwerk deur *120*1449# op jou selfoon in te tik. Wanneer jy 'n SMS ontvang wat vra vir die program nommer, tik 101 in en stuur (send).
0 Comments