-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die gemeenskappe in Noordwes en Limpopo kan behoorlik dankbaar wees vir die hand wat Solidariteit Helpende Hand in die opheffing van hulle kinders gehad het. Vanaf Januarie tot en met Junie vanjaar is meer as R850 000 tot die opleiding van kinders in dié streke bygedra.
Helpende Hand se Limpopostreek strek vanaf Rustenburg tot Phalaborwa en bestaan uit 15 takke met 75 vrywilligers. Sonder om self enige vergoeding te ontvang, veg hierdie vrywilligers daarvoor om krities belangrike opheffings- en opleidingsgeleenthede aan kinders in hul gemeenskappe te bied in die hoop dat dit die armoedesiklus vir hierdie generasie kan verbreek.
Projekte vir 2015 tot dusver:
• ’n totaal van R251 724 is deur Helpende Hand aan 55 projekte spandeer, hoofsaaklik vir die opheffing van kinders.
• 'n totaal van 352 skooltassies ter waarde van R176 000 (elke tassie met ’n markwaarde van R500) is aan graadeens in die streek uitgedeel.
• Agt kleuterskole is gekeur om vir 11 maande R30 520 per maand te ontvang. Daar sal altesame 436 kinders by hierdie projek baat vind en teen die einde van die jaar sal 'n bedrag van R335 720 deur Helpende Hand gegee word vir die projek.
• Daar is tien studie fondse in die streek. Daar is aan die begin van die jaar R96 000 bygedra tot die studies van ses studente; en daar is nog meer as R400 000 wat vanjaar toegeken kan word.
Marianthie van der Walt is die streeksorganiseerder en sy hoop om die streek se invloed selfs nog groter te maak deur vrywilligers en ondersteuners te werf.
“Ek voel nederig en oorweldig deur die ongelooflike verskil wat ons handjievol vrywilligers in hul gemeenskappe maak. Ek droom ook oor die moontlikhede van selfs groter verskille wat gemaak kan word. Skole en individue wat deel van hierdie positiewe en opbouende statistiek wil wees, kan my kontak,” sê van der Walt.
Indien u ook graag deel van hierdie verskil wil wees en betrokke wil raak, kan dit op enige van die volgende wyses gedoen word:
• Word ’n lid van Helpende Hand – deur slegs R50 per maand te skenk, maak u op nasionale en plaaslike vlak ’n deurlopende verskil in die lewens van ons kinders . Vir elke 15 ondersteuners wat in die streek gewerf word, ontvang ons ook finansiële bydraes van hoofkantoor om spesifiek in ons streek vir opheffing aan te wend.
• Gee ’n skenking: Skenkings van nie-bederfbare voedsel, klere en ander huisware is altyd bruikbaar deur ons takke en word op gekontroleerde basis versprei.
• Raak betrokke by ’n tak: Ons het altyd vrywilligers se hande nodig met projekte en uitreike; u is welkom om by een van ons takke betrokke te raak. Hoe meer hande ons het, hoe groter verskil kan ons maak.
•Maak ’n donasie: Enige donasie is vir ons van waarde, ongeag hoe groot of klein – elke bietjie help!
Bankbesonderhede:
Solidariteit Helpende Hand
Bank: FNB
Reknr.: 62331445503
Takkode: 261550
Verwysing: LIM 01
Solidariteit Helpende Hand is ’n nasionale organisasie sonder winsbejag en fokus op die voorkoming, verbreking en verligting van armoede. Vir inligting oor Helpende Hand of om by ’n tak betrokke te raak, kontak Marianthie by 082 741 7858.
0 Comments