-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE –Alexander Schutte het drie weke gelede aangebied om sy R100 snoepiegeld eerder aan sy siek maatjie, Hendrik (Hekkie) Grobler, te skenk vir ’n beenmurgoorplanting. Hekkie, ‘n Graad 6 leerder aan Laerskool Krugerpark is in Maart met leukemia (bloedkanker) gediagnoseer.
Alexander se onbaatsugtige optrede het sy gesin geïnspireer om te help met ‘n projek om by te dra tot die mediese kostes vir Hekkie se behandeling.
Hekkie het vroeër vanjaar begin kla oor erge migraines en ‘n pyn in sy een enkel. Hy is kort daarna met leukemia gediagnoseer.
Vir sy ma, Es-Mari, wat toé net ‘n paar weke oorgehad het voor die geboorte van haar derde kind, was die nuus ‘n bitter pil om te sluk.
Hekkie was ‘n lewenslustige 12-jarige en het ’n gesonde 53kg geweeg voordat hy siek geword het. Hy het intussen meer as 10kg gewig verloor. “Dit is vir hom moeilik om te eet,” sê Es-Marie. “Die chemoterapie affekteer sy smaak kliere en soms maak die kos hom naar, maar vir sy beswil probeer ek alles in my vermoë dat hy kos inneem.”
Sy gestel laat hom ook nie toe om ‘n normale lewe te ly nie. Hy is uiters vatbaar vir siektes en moet byvoorbeeld ’n gesigmasker dra wanneer hy kerk toe wil gaan.
“Die reis tot dusvêr was nie maklik nie. Ons het al baie gehuil,” sê sy. “Maar die foon het in die begin onophoudelik gelui soos wat mense uitreik na ons toe.”
Alexander en sy gesin het hulle sommer dadelik ‘n skenking gemaak en sy ma, Vanessa het die Facebook-bladsy “Beenmurg vir Hekkie” gestig om te help fondse insamel. Baie mense het reeds goed hierop gereageer en Hekkie en sy gesin gaan elke sent nodig hê.
Hulle mediese fonds is uitgeput na al die behandelings en prosedures sedert Maart en die beenmurgoorplanting wat Hekkie eersdaags moet ontvang gaan ongeveer R500 000 kos. Sy jonger boetie, Kobus, gaan in Oktober sy beenmurg skenk met die hoop op sy boetie se herstel. Hul mediese fonds sal net ‘n gedeelte van die prosedure dek.
Es-Marie sê sy is onseker hoeveel hiervan hulle self gaan moet opdok. Die beraamde koste sluit nie Es-Marie se weeklikse en soms daaglikse reiskoste na en van die Unitas hospitaal in Pretoria in nie. Verblyf en etes word ook nie hierby ingereken nie. Die gesin se finansies is dus maar onder druk. Es-Marie sê sy moet ook gereeld tyd by die werk afvat om haar siek seun by te staan.
Sy lyfie het reeds twee keer negatief op chemoterapie reageer en hy het al opgehou asemhaal. Dokters kon hom gelukkig stabiliseer en hy sterk tans by die huis aan voor sy groot operasie.
Es-Marie hoop op haar seun se herstel teen Desember en is vasberade dat Hekkie Graad 6 gaan slaag ondanks sy siekte wat hom sedert Februarie verhoed het om skool by te woon. Sy huiswerk word spesiaal tuis vir hom afgegee.
Die gesin het hulle opregte dank uitgespreek teenoor al die barmhartige samaritane wat reeds bydrae vir Hekkie gemaak het. “’n Druppel in die emmer is klaar ‘n druppel wat nie voorheen daar was nie,” het Vanessa in ‘n epos aan Noordelike Nuus gesê.
‘n Spesiale jeug rekening is vir Hekkie gestig. Lesers wat ‘n bydrae wil lewer kan die volgende bankbesonderhede gebruik: HM Grobler, Eerste Nasionale Bank (ENB), Mokopane tak, Rekening nr. 62560877741. Vanessa kan gekontak word by 076 402 1693 vir navrae.
0 Comments