-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Kaitlint en Jayden da Costa se begrafnisdiens sal Vrydag om 14:00 by die PPK Lighuis gemeente in Onverwacht plaasvind.
Ten spyte van desperate pogings om die lewe van die klein brandslagoffer Jayden da Costa (1) te red, is die babaseuntjie verlede Sondagoggend oorlede.
Sy sussie, Kaitlint, is ook dood nadat daar ‘n brand ontstaan het in hul huis.
Jayden het nog ’n boetie, Douw (4), wat die brand, wat vermoedelik deur ‘n elektriese kortsluiting veroorsaak is, oorleef het.
Fondse is ingesamel om Jayden verlede Woensdag vanaf die Mankweng-hospitaal net buite Polokwane oor te plaas na Meulmed in Pretoria. Die gesin beskik nie oor ‘n mediese fonds nie. Kort na sy oorpla-sing is bevind dat Jayden se beserings erger is as wat aanvanklik vermoed is. Toetse het Saterdag gewys dat Jayden geen brein aktiwiteit toon nie en hy is omstreeks 10:10 Sondagoggend in sy ma, Sibreena da Costa, se arms dood.
Jayden en Kaitlint se oupa, José da Costa, en hulle ma se verloofde, Johan Nel, het ook brandwonde opgedoen toe hulle gepoog het om die kinders uit die kamer te red. Sibreena het Douw glo uit die kamer gegooi en hy is slegs vir rookinaseming behandel. José het sy voete verbrand toe hy deur die vlamme gehardloop het om Kaitlint en Jayden te red - Nel moes 'n venster breek om uit te kom.
Die Hero Burn Foundation het saam met privaatpersone en organisasies fondse ingesamel om die gesin se mediese kostes te dek en by te staan. Volgens hulle Facebook-blad het hulle gevra dat die gesin se privaatheid gerespekteer moet word tydens hierdie moeilike tyd.
Sibreena het via die Hero Burn Foundation almal bedank vir hul bystand, donasies en gebede. “Ons harte is stukkend en ons weet dat julle gebede ons deur hierdie moeilike tyd dra,” skryf sy. “Ek het nie woorde om my dankbaarheid uit te spreek nie.”
0 Comments