<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

SA raak gevaarliker maar Limpopo se karre is glo veilig

 
News : 05 Oct 2015 88 Viewed By NoordNuus reporter 0

LIMPOPO - Moord in Suid-Afrika het volgens die polisie se nuutste misdaadsyfers die afgelope jaar met 4,6% toegeneem, huisroof, wat ook plaasaanvalle insluit met 5,2% en motorkapings met 14,2%.
Volgens die polisie se statistiek is motors in tien van Limpopo se dorpe, selfs in die hoofstad Polokwane, egter veilig nadat daar in die laaste jaar nie ‘n enkele motor of motorfiets gesteel is nie.
Netwerk 24 berig dat daar in Lephalale, waar misdaad skerp gestyg het sedert die Medupi-kragstasie gebou is, ook nie ’n enkele motordiefstal plaasgevind nie. Dít terwyl 20 motors die vorige jaar gesteel is.
Dit lyk egter of Lephalale se diewe kort na die Maart afsnydatum weer begin steel het. Een motor is Maandag gesteel en Noordelike Nuus het vanjaar al oor drie ander voorvalle gerapporteer.
Ander plekke waar daar glo geen motordiefstal was nie, is Lebowakgomo, Modimolle, Seshego, Bela-Bela, Mookgophong, Phalaborwa en Musina.
Kenners meen daar is fout met die statistiek. Gareth Newham, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie, sê hulle het verskeie “onreëlmatighede” in die misdaadsyfers gevind.
Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het plaasaan-valle en moorde die afgelope jaar skerp toegeneem en word dié punt ook nie duidelik in die statistiek oorgedra nie.
Volgens statistiek wat AfriForum en TLU SA in Julie uitgereik het, het 27 plaasmoorde en 116 aanvalle in die eerste ses maande van 2015 voorgekom. Hierdie syfers is in die nasionale moord en huisroof syfers vervat. AfriForum en TLU SA meen dit moet afsonderlik aangedui word.
Daar hang ook baie vrae rondom die lae veediefstalsyfers in somige landelike areas. Volgens Netwerk 24 is geen vee die afgelope boekjaar in Delmas, Belfast, Middelburg, Mbombela (Nelspruit) of eMalahleni (Witbank) gesteel nie.
Ook Lydenburg, Ermelo, Chrissiesmeer, Breyton, Dullstroom, Hendrina, Amsterdam, Piet Retief, Barberton, Sabie, Carolina, Secunda, Graskop, Standerton en Evander het volgens die polisie se misdaadsyfers nié onder veediewe deurgeloop nie.
Genl.maj. (afgetree) Chris de Kock, die polisie se voormalige hoof van statistieke, het glo by navraag gesê daar is ’n groot toename in die onderrapportering van veediefstal. “Boere raak gefrustreerd en meld dit nie meer by die polisie aan nie.”
Boere moet op plaaslike vlak inskakel by die veiligheidstrukture wat deur die Landelike Veiligheidstrategie daargestel is, sê mnr. Kobus Visser van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee.
Landelike veiligheidsforums het dit ten doel om ‘n platvorm te skep waar boere en polisie saam planne kan beraam vir beter aanwending van reserviste en plaaswagte en om gebiede te identifiseer waar sigbare polisiering die gewenste impak sal hê.
Dit is ook die plek waar boere hul frustrasies met dienslewering met die polisie kan opneem.
“Daar is ongelukkig party polisiestasies in ons landelike gebiede waar dienslewering ten opsigte van sekere misdade nie op standaard is nie,” sê Visser.
“Ons vind dat die polisie baie vinnig op die toneel is wanneer daar ‘n plaasaanval was, maar dat hulle nie altyd so flink reageer op klagte oor betreding en met veediefstal ondersoeke nie.”
Hy verduidelik dat die landelike veiligheidforums die ideale plek vir boere is om hul plaaslike polisielede bewus te maak van die noodsaaklikheid vir vinnige opvolgwerk op misdaadtonele en ook ‘n plek is waar die polisie boere kan sê hoe om misdaadtonele te preserveer vir ondersoekbeamptes.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube