-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
ROEDTAN – Twee families is in rou nadat twee mans van Mokopane Sondag-oggend in ’n gru-ongeluk op die N11 buite Roedtan dood verongeluk het.
Provinsiale polisie woordvoerder, kolonel Ronel Otto sê Frik Meyer (57) en Pieter (Pote) de Beer (51) het
verongeluk toe die silwer Mercedes SLK waarin hulle gereis het, gerol en aan die brand geslaan het. Die twee vriende was vanaf ’n funksie in Roedtan na Mokopane onderweg toe die ongeluk rondom 00:30 Sondagoggend plaasgevind het.
Meyer se skoothondjie, Lucky, wat so te sê onafskeidbaar was van sy eie-naar, is ook in die ongeluk dood. Otto sê hulle vermoed ’n band van die voertuig wat gebars het was die oorsaak van die ongeluk, maar dit is nog nie bevestig nie.
Meyer was die eienaar van ’n vragmotor onderneming en De Beer was volgens ’n voormalige skoonsuster, ’n vriend van Meyer en ook ’n werknemer. Meyer laat sy vrou, Mariëtte, twee dogters, Lizelle, Juanita en twee kleindogters agter en De Beer laat sy dogter Geraldine en seun, P.J, agter.
Medelye het ingestroom op families van die oorledenes se Facebook-bladsye. Meyer se een dogter Lizelle het Sondagoggend geskryf: “Min het ek vanoggend geweet ek gaan my dag moet begin sonder pa se stem, ek wens ek kon wakker word en pa is net nog hier! Hoe gaan ons aan sonder pa? Waarheen nou? Ek het so gebid dat pa net okay moet wees en ja hier sit ek nou met baie hartseer en n stukkende hart! Woorde kannie nou beskryf hoe ek voel nie! Ek gaan pa so vreeslik baie mis! Love u dad!”
Beide oorledenes se roudienste word Vrydag (vandag) gehou. Pieter se roudiens word 11:00 by die Hervormde Kerk in Groblersdal gehou, terwyl Frik se familie vir hom ’n roudiens by die familie woning op Maribashoek om 12:00 gaan hou.
0 Comments